Swartbaars lê en wag
LEPHALALE – Die swartbaars hengelkompetisie is om die draai. Dit geskied op Saterdag 30 April 2011 van 06:00 tot 16:00 by Mokolo-dam (Hans Strydom-dam). Die fondsinsamelingsgeleentheid geskied onder beskerming van die Hervormde Gemeente Ebenhaeser, Lephalale.
‘n Inskrywingsfooi van R300 per hengelaar is betaalbaar. Die kaartjies is beskikbaar by die Hervormde kerkkantoor Ebenhaeser, die hooforganiseerder Carel “Waatlemoen” Roos, asook by kerkraadslede en gemeentelede wat boekies het om te verkoop. Kaartjies sal ook die Vrydagmiddag en Saterdagoggend by die hek van Mokolo-dam verkoop word.
‘n Toegangsfooi van R50 per persoon is op die Saterdag by die hek betaalbaar. Dit sluit die voertuig en die boot in. Die keuse van vangs vanaf die oewer of vanuit ‘n boot berus by die hengelaar. Hengelaars gebruik hulle eie bote. Die inweegproses vind 16:00 plaas.
Verversings sal in die loop van die dag te koop aangebied word. Braaipakkies word beskikbaar gestel in die vorm van wors, skaap-/varktjops, bees-/wild”steak”. Slaai, pap en sous, asook koeldrank word voorsien. In die loop van die dag word worsbroodjies te koop aangebied. Die opbrengs is ten bate van die Hervormde Gemeente Ebenhaeser.
Vir diegene wat belangstel, neem die funksie reeds Vrydagmiddag ‘n aanvang. Die Raad van die Mokolo-dam stel self die toegangsfooi vas. Braaipakkies, pap en sous sal dan ook voorsien word.
Met die toekenningsgeleentheid op Saterdagmiddag word aantreklike pryse uitgedeel. Die wenner van die swaarste swartbaars ontvang R10 000, tweede swaarste swartbaars R5000 en derde swaarste swartbaars R2 500. Interessantheidshalwe kan genoem word dat daar, bo en behalwe die kontantpryse, ook wisseltrofeë uitgedeel sal word.
Gemeente Ebenhaeser nooi die gemeenskap hartlik uit om aan die kompetisie deel te neem. Bring familie en vriende saam om van die dag en geleentheid ‘n groot sukses te maak. Vir verdere navrae, kontak die Hervormde kerkkantoor Ebenhaeser by 014 763 2703 of Carel Roos by 082 259 0784 of Ds Kalfie Loots by 082 6566 677.