Sersant ontslaan ná Tolwe onderonsie

Polisiesersant, Charlene Janse van Rensburg, het tien dae om appél aan te teken teen haar oneervolle ontslag nadat sy in November verlede jaar tussenbeide getree het tydens ‘n onderonsie tussen drie verdagtes en lede van die Tolwe polisiestasie.

Janse van Rensburg is aangekla vir dwarsboming van die gereg nadat sy die een verdagte, JC Brewis uit die vangwa, waarin hy opgesluit was, gaan haal het.

Brewis, sy verloofde en ‘n vriend, Kobus Calitz, is die aand in November deur polisie afgetrek en glo daarvan beskuldig dat hulle deur ‘n padblokade gejaag het.

Janse van Rensburg, haar man Gert en Koedoesrand DLU veiligheidsvoorsitter, Paul Horn is toe aangekla vir dwarsboming van die gereg, terwyl Brewis jnr. aangekla is vir dronkbestuur.

‘n Klag van dronkbestuur is in die landdroshof op Tolwe uitgestel hangende die uitslae van bloedtoetse. Daar is egter nooit bloed van Brewis getrek nie.

Janse van Rensburg en haar man asook Horn en Brewis se verloofde het verskeie klagte teen van die polisielede aanhandig gemaak na afloop van gebeurtenisse die betrokke aand.

Daar is egter nog geen aksie teen hierdie lede geneem nie.

Lephalale distriksbevelvoerder Lt.Kol. Jeffrey Seroka verduidelik dat daar verskillende prosedure gevolg word met die vervolging van polisielede wat aangekla word vir beweerde misdade terwyl hulle aan diens is. Janse van Rensburg was nie aan diens die aand van die voorval nie.

‘n Polisiewoordvoerder het intussen bevestig dat die dokumente wel nog by hul regsdepartement is vir ‘n besluit of verdere aksie teen die polisielede geregverdig is.

Intussen is Janse van Rensburg ná jare se diens haar salaris en pensioen kwyt indien haar appél nie slaag nie. – LiN Nuus/Bosveld Bulletin