Wet geld nie vir Thabazimbi en Lephalale verbruikers

Die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming wat vandag, Vrydag 1 April 2011 in werking tree, is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse verbruikers. Dit beloof om die gehalte van produkte en dienste, insluitend dié van (sommige) munisipaliteite, te verbeter. Maar in Thabazimbi en Lephalale gaan inwoners maar verlief moet neem met die aftraandepad wat dienslewering hier ingeslaan het. Dié munisipaliteite is een van die 200 sukkelende plattelandse munisipaliteite wat nie aan hierdie wet se vereistes hoef te voldoen nie.

Regs- en grondwetkenners sê dié vrystelling kom neer op diskriminasie. Prof. Marinus Wiechers, afgetrede grondwetkenner, sê die Grondwet bepaal duidelik dat elkeen “die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg het”.

Dié reg word nou ontneem – al is die vrystelling net vir een dag, sê Wiechers.

Dié reaksie volg nadat dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, twee weke voor die inwerkingtreding van die wet aangekondig dat “lae- en middelslag-vermoë-munisipaliteite tot verdere kennisgewing” van die toepassing van die wet vrygestel word.

Dié aankondiging bring mee dat inwoners van hoofsaaklik sowat 200 sukkelende plattelandse munisipaliteite regoor die land nie die beskerming sal geniet wat die nuwe wet aan hulle sou bied nie. In werklikheid sal die groot metrorade en groot munisipaliteite aan die wet onderhewig wees.

Daar is darem goeie nuus in die sin dat die wet wyer as net munisipaliteite strek. Die wet hou byvoorbeeld voor dat oproepsentrums nie verbruikers mag teister met die smous van produkte en dienste nie. Versteekte koste en onverstaanbare kontrakte is ook nou iets van die verlede. Maatskappye sal voortaan gedwing word om produkinligting te openbaar en verantwoordelike bemarkingspraktyke te beoefen. Die verbruiker word ook spesifiek beskerm teen uitbuiting ten opsigte van bondeling van produkte – byvoorbeeld lugtyd wat saam met ’n selfoon verkoop word. ‘n Verskaffer sal ook nie sommer vanselfsprekend ’n ooreenkoms met ’n verbruiker kan aangaan of ’n verbruiker kan dwing om produkte te aanvaar op die grondslag dat dit outomaties verskaf word as die verbruiker dit nie spesifiek van die hand wys nie.

Verbruikers kan vastetermynkontrakte nou voortydig kanselleer, mits daar 20 werksdae kennis in die verband gegee word. In so ‘n geval is die verskaffer geregtig om ‘n billike kansellasiefooi te hef soos deur die Minister van Handel en Nywerhied vasgestel teen 10% van die oorblywende kontrakswaarde.
Kontrakte mag ook nie voortaan outomaties hernieu word al sou die verbruiker versuim om skriftelik kennis te gee van kansellasie nie. Dit sluit in kontrakte met selfoonmaatskappye en gimansiums. In gevalle waar direkte bemarking deur die verskaffer gebruik is om die transaksie te inisieer, is die verbruiker geregtig op ‘n 5 dae afkoelperiode waarin die kontrak kosteloos en sonder enige gevolge gekanselleer kan word. Onverstaanbare terme en voorwaarde-klousules in kontrakte is ook iets van die verlede aangesien verbruikers deeglik bewus moet wees van die fynskrif voordat kontrakte onderteken word.
Verbruikers se privaatheid word ook grotendeels beskerm , deur die verspreiding van kontakbesonderhede vir bemarkingsdoeleindes te beperk.

Lugdienste sal voortaan nie toegelaat word om meer kaartjies vir vlugte te verkoop as waarvoor daar sitplekke beskikbaar is nie.

Ingevolge hierdie wet kan verbruikers nie aanspreeklik gehou word vir goedere wat in winkels beskadig of gebreek word nie, tensy die Verbruiker se optrede neerkom op growwe nalatigheid of kriminele optrede. Hierdie bepaling geld ten spyte van kennisgewings tot die teendeel wat in winkels opgerig mag wees. Dit blyk dus dat die bekende kennisgewings wat lui “ lovely to look at, lovely to hold, but if you break it consider it sold” voortaan vir die verskaffer van geen waarde sal wees nie.

Verskaffers sal voortaan ook baie streng aanspreeklik gehou kan word vir skade of nadeel veroorsaak deur defektiewe goedere en produkte. Dit sluit produkte in wat onveilig is, asook produkte wat nie voldoende instruksies of waarskuwings bevat nie.

Wat munisipaliteite betref sal belastingbetalers daarop kan aandring dat die deposito wat vir die aansluiting van dienste plus rente terugbetaal word wanneer die eiendom verlaat word. Verbruikers sal ook kan aanspraak maak op die tydige lewering van ‘n diens soos vullisverwydering. Indien ‘n diens na drie weke nie gelewer is nie kan die verbruiker sy geld van die munisipaliteit terugeis. Munisipaliteite sal ook aanspreeklik gehou kan word vir enige advies wat aan verbruikers gegee word.