Res Gen SA maak plan met water

Hennie van Aardweg, projekleier van Resource Generation SA se Boikarabelo mynbouprojek in Steenbokpan het hierdie week die groep se planne op die tafel gelê  en so verduidelik waar myngroepe hul water vandaan gaan kry nou dat die Mokolo Krokodil Wes Water Aanvullingsprojek vertraag is.

Die Boikarabelo projek lê teen die Botswana grens op die walle van die Limpopo. Nog ‘n beplande myn, Sekoko Coal s’n lê tussen Steenbokpan en Exxaro.
Volgens Van Aardweg het hy lankal sy planne agtermekaar en het die verwikkelinge met die pyplyn hom nie geaffekteer nie. Digby, Wells & Associates, die konsultante op die projek, se kundiges het maande lank in die omgewing geboor om geohidrologiese toetse te doen. Res Gen SA se plan is om vir die eerste vyf jaar van boorgate gebruik te maak.

“Ons het hierdie saak presies volgens wet hanteer, omdat ek maar alte goed weet watter sensitiewe kwessie water is. Ons boorgate sal nie ander grondeienaars se water beïnvloed of hul boorgate laat opdroog nie. Ons gate sal ook nie inmeng met die vloei van die Limpopo nie. Ons sal die situasie konstant monitor om seker te maak hiervan,” verduidelik hy.

Hy wil egter die waterbehoefte so gou moontlik aanvul met grys water vanaf Marapong. “Ek praat reeds ‘n geruime tyd met die munisipaliteit oor die moontlikheid van afval-water. Ons is almal bewus van die probleme met riool in Marapong. My voorstel is dat ons vir die dorp ‘n riool-suiweringswerke oprig wat sal voorkom dat daar ooit weer riool afvloei na die Mogolrivier. Ons sal dan die gesuiwerde water, geskik vir industriële gebruik, na Steenbokpan pomp om aan ons industriële behoeftes te voorsien.”

Vir die burgemeester het dit ook in ‘n onlangse vergadering soos ‘n wen-wen situasie geklink. “Hopelik begin dinge nou gebeur,” sê Van Aardweg. Hy glo dat dit vir Boikarabelo en vir Marapong ‘n oplossing en uitkoms kan bied.

Planne vir die myn vorder intussen goed en die Omgewingsimpakstudie is reeds ver gevorder. Die bestekopname-verslag behoort binnekort voltooi te wees, waarna daar weer publieke deelname sal plaasvind om belangstellendes geleentheid te gee vir kommentaar.

Hulle het ook aansoek gedoen vir die bou van ‘n spoorlyn wat van Steenbokpan in die rigting van Grootegeluk sal loop om daar aan te sluit by die bestaande spoor. Die planne is dan om Sekoko Coal se spoorwegplanne te inkorporeer.

Van Aardweg wil graag in Okt 2011 die eerste sooie spit. “Ons wil meer as 800 werkers in diens neem en ek wil graag sien dat 250 van hulle vroue is om ons masjinerie sagkens te behandel.”

Inwoners van Steenbokpan het die oop en toeganklike houding van die myngroep as ‘n aangename verandering op ondeursigtige prosesse en onbereikbare industrieë beskryf. – LiN Nuus/Bosveld Bulletin