Rekord op Blouwildebeeste verbeter by Alldays wildveiling

ALLDAYS – Die eerste wildveiling van die jaar is deur Hanley wildvangdiens wat aan mnre Lood Goosen Senior en Junior behoort, by Alldays veilingskrale op Vrydag 25 Maart aangebied.

Daar was besondere belangstelling in die veiling aangesien mnre Goosen ervare wildvangers is en hoogs betroubaar is. Die diere was oudergewoonte in ‘n baie goeie toestand.

Dit het in Januarie goed gereën wat beteken dat daar weiding is. Hoewel die reën in Februarie afgeneem het, was die belangstelling nog baie goed.

Die Suid-Afrikaanse rekord op Blouwildebeeste wat al sedert 1997 op R5800 staan, is twee keer verbeter en staan nou op R10000.

Die pryse was as volg: Nege en veertig blouwildebeeste is onder die hamer gebring teen ‘n gemiddeld van R5245 met die hoogste prys van R10000, 16 elande teen ‘n gemiddeld van R5888, 20 gemsbokke teen ‘n gemiddeld van R5475, twee kameelperde teen ‘n gemiddeld van R14500, 35 koedoes teen ‘n gemiddeld van R3335, 10 njalas teen ‘n gemiddeld van R5724, 117 rooibokke teen ‘n gemiddeld van R965, 18 sebras teen ‘n gemiddeld van R5256 en agt waterbokke teen ‘n gemiddeld van R3650 is verkoop.

Die manlike diere se pryse is as volg: Vyf blouwildebeeste teen ‘n gemiddeld van R3330, vier elande teen ‘n gemiddeld van R11063, vyf gemsbokke teen ‘n gemiddeld van R4880, vyf koedoes teen ‘n gemiddeld van R8600, 25 rooibokke teen ‘n gemiddeld van R1212 en vier waterbokke teen ‘n gemiddeld van R7438 is onder die hamer gebring.

Die totale omset vir die veiling was R1.088 725 miljoen.