Ons lesers skryf – Leeupoort: Haglike strate, ou brandweerwa, swak diens

As belastingbetalende inwoner van Leeupoort, het ons die reg om basiese dienste van die plaaslike Munisipaliteit te verwag. Onder andere, ‘n begaanbare pad. Ons paaie is egter in ‘n haglike toestand en tans veel erger as die pad tussen Brits en Thabazimbi. Dit is totaal onaanvaarbaar. Daar word niks aangedoen nie. Sekere paaie word nooit geskraap nie. Die voertuie kan nie eens daar ry nie en dan word daar gesê dit is dorpsgebied.

Dit is ‘n absolute skande wat tans gebeur in Leeupoort. Mense van oor die sewentig jaar, wat skaars kan loop en wat belasting betaal, moet kruiwaens vol sand aanry om die gate te vul, terwyl daar mense is wat aangestel is om die werk te doen. Die paaie oorkant Raphuti word gereeld geskraap en indien hulle die paaie wel sou skraap in Leeupoort, is dit altyd op ‘n Vrydag, en dan net Tambotie, Muisvoël en Kameeldoringstraat.

Die soveelste brief aan die Munisipaliteit is hierdie week gestuur, wanneer gaan daar iets gebeur?

Die kwessie van die brandweer is ook nog steeds nie uitgesorteer nie. Die 1910’se ossewa-brandweerwa is waardeloos. ‘n Paar maande gelede was daar ‘n brand in Tinktinkie waar ‘n lapa afgebrand het. Die ou brandweerwa uit toeka se dae het niks beteken nie. Daar is brandkrane hier en daar, maar die apparaat wat die water moet herlei, ontbreek.

Verder hang die takke in die paaie en krap die voertuie se dakke in Tambotie en Muisvoëlstraat en die ander groei al in die pad, maar word nie gesny nie.
Laastens wil ons die Munisipaliteit bedank vir die spruit wat mooi reggemaak is. Dit word waardeer, maar kan hulle asseblief die gereedskap verwyder wat daar op die damwal al reeds vir ‘n maand al lê…

Nettie van Tonder