Dit kook weer by die Thaba Expo

THABAZIMBI – Kom deel in die pret en plesier soos al deur baie feesgangers ervaar en skryf in vir die potjiekoskompetisie wat plaasvind by die Thaba Expo op Saterdag 30 April.

Die potjiekos-area is hierdie jaar net anderkant die Spar verhoog, so jy kan woeker met jou pot onder die koelte van die doringbome en terselfdertyd net ‘n bokdrol-spoeg ver van al die aksie af wees.

Soos elke jaar, sal daar hierdie jaar weer ‘n bekende persoonlikheid wees wat help roer, proe en kuier – maar meer daaroor in volgende week se uitgawe.
Vir inskrywingsvorms, stuur ‘n e-pos aan Tanya Vorster by tanya@hilltoplive.co.za, of haal ‘n vorm af by die Kwêvoël kantore in Tweedelaan. Hiermee ‘n baie kort opsomming van die reëls:

  • Nie meer as vier deelnemers per span. (Vriende en familie kan saamkuier maar mag nie help met pot/opdis ens.)
  • Inskrywingsfooi is R130.00 per span (dit sluit in jou staanplek met vuurmaakplek, maar nie tafels of stoele nie).
  • Wildsvleis moet hoofbestanddeel van die dis wees (bietjie ander vleis soos skaap en vark mag bygevoeg word.)

Vir meer inligting oor die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo en stalletjies kontak asseblief Michelle Swart by michelle@hilltoplive.co.za of 012 327 6163/6601 of besoek www.thabaexpo.co.za