Bosveld gaan groen

Elize Pretorius, streeksvoorsitter van Bosveldstreek, wens Annatjie Dreyer geluk met Northam se aanwysing as Bosveldstreek se Top Tak. Annatjie het ook die tuig neergelê as vise-voorsitter van Hardekoolkring en streeksekretaresse.

Die 16de konferensie van Bosveldstreek is gehou op 16 Maart op ‘n sopnat Beauty.

Na die reën was die konferensie se tema letterlik en figuurlik: “Gaan groen!” Met ‘n tema van herwinning en herbenutting, was die saal vrolik versier met ontwerpersinkopiesakke en pryswenner blomme van die lede se blommerangskikkingskompetisie.

Die VLU tema van die jaar is “Maak ‘n verskil”, wat inspirerend belig is deur die presidente van VLU Noord, Tharina Rossel. “Ons moet ‘n verskil maak en moet begin by die gesin. John Browning sê ‘n gelukkige gesin is ‘n stukkie van die hemel,” sê sy. “Gee meer van jouself om ‘n verskil te maak! Wees ‘n verskil in die wêreld om jou.” Was haar boodskap.

Jan Viljoen, streeksvoorsitter van TLU SA Noord, het die dames bedank vir die feit dat die VLU hul bondgenote is. “Ons wil die VLU bedank dat hulle ‘n tuiste skep vir ons gades, wat deur die ontwikkeling van hulle talente ook ons lewens verryk! Die VLU maak ‘n verskil in ons lewens.”

Agri Limpopo is verteenwoordig deur dr John Williams. “Net jy kan ‘n verskil maak, moenie in jouself twyfel of probeer wegkruip in ‘n groep nie,” sê hy. Hy het die woord, VROU vir die konferensie uitgelê: “’V’ vir verskil maak; ‘R’ vir rigting gee, ‘O’ vir onbaatsugtige oorgawe en ‘U’ vir uitkoms. Deur ware vrou te wees, kan u ‘n verskil maak wat saak maak.”

“Mense wat ‘n verskil maak, wat passie het, weet wat hulle moet doen, hoe hulle dit doen, maar veral hoekom,” sê gasspreker Astrid Basson. Mense kla te maklik oor hulle eie omstandighede, sonder om die rykdom in hulle te ontgin en hulle eie passie te ontdek. Soms besef vroue nie watter groot verskil vroue in die wêreld maak nie. Deur die liefdevolle opvoeding van kinders, maak vroue ‘n verskil in die lewe. Deur positief te wees en ander met liefde aan te moedig. “Die wêreld daar buite het dalk net jou insette nodig om te verander,” sê sy.

Verkiesing is gehou en Elize Pretorius is herkies tot streeksvoorsitter. As vise-voorsitter vir Hardekoolkring is gekies, Trudie de Beer van Alma-tak om oor te neem by Annatjie Dreyer wie se termyn verstryk het. ‘n Splinternuwe skakelbeampte is verkies, naamlik Hannie Yssel ook van Alma-tak.

Die VLU-lid van die jaar was Marieta Eckard. Mari Meintjes het die trofee gewen vir Skakelbeampte van die Jaar. Die gesogte titel van Top Tak is gewen deur Northam onder leiding van Annatjie Dreyer. Die tak wat beste in kompetisies gevaar het, was Ellisrastak, wat ook die Blommetrofee gewen het.

Die lid met die hoogste punte, die meeste pryswennende artikels, die hoogste punte vir provinsiale artikels was Annelize Maritz van Ellisrastak. Die lid met die hoogste punte in streeksartikels was Mari Meintjes van Northam. Lede met die tweede hoogste totaal was Annette Swart van Almatak en derde was Loesje Barnard van Ellisrastak. Cilea Goosen van Northam het ‘n spesiale prys ontvang vir haar mosaïekkruis en ook die toekenning ontvang vir mees verdienstelike artikel.

Elana Greyling