General

Boere steeds op eie genade

Landbouorganisasies en selfs polisielede het die week hul teleurstelling te kenne gegee nadat Polisie minister, Nathi Mthethwa verlede week in die parlement aangekondig het dat die reserviste beleid hersien gaan word en dat geen reserviste tot tyd en wyl aangestel sal word nie.

Die Suid-Afrikaanse polisie het sedert April 2009 nog geen reserviste aangestel nie. ‘n Moratorium op die aanstel van reserviste is vir die tydperk 1 April 2009 tot 10 Desember 2009 ingestel, maar voorbereidings vir die sokkerwêreldbeker in 2010 is voorgehou as die rede waarom reserviste na dié datum nie aangestel kon word nie. Sedertdien is die moratorium gelig, maar volgens die minister sal ‘n nuwe kriteria vir die keuring van reserviste eers daargestel word. Die manier waarop reserviste bestuur word gaan ook ondersoek word. Hy het in die parlement gesê dat die ministerie eers moet gaan uitklaar wat presies van reserviste verwag word.

Daar is verlede jaar na die sokkerwêreldbeker aangekondig dat nuwe reserviste voor die einde van die boekjaar aangestel sal word en dat toerusting wat vir die wêreldbeker gebruik is vir landelike veiligheid beskikbaar gestel sal word. Volgens Francois van den Berg, voorsitter van Agri-Limpopo, het niks hiervan gekom nie. Hy sê ook dat 25 boere in die Lephalale distrik hulself bereid verklaar het om as reserviste aan te sluit nadat die moratorium in 2009 gelig is.

“Ons het die vorms ingevul en al die vereistes nagekom, maar niks het daarvan gekom nie.”

Van den Berg meen dat die polisie sloer omdat daar nog geen besluit geneem is oor die uitreik van vuurwapens aan reserviste nie. “Die polisie het nie genoeg mannekrag om boere se veiligheid te verseker nie. Enige landelike veiligheid inisiatief het gewapende reserviste nodig. “

Kaptein Hardus van Emminis van Lephalale polisie sê dat die polisie reserviste nodig het om te help met die beveiliging van plase. Ons het net nie die mannekrag om landelike veiligheid te verseker nie. Rondom die uitreik van vuurwapens aan reserviste sê hy vuurwapens sal wel aan reserviste uitgereik word, maar net as hulle aan diens is. ”Geen reserviste sal toegelaat word om dienspistole huis toe te neem nie.” Het hy aan Bosveld Bulletin gesê.

Die vorige kriteria vir die aanstel van reserviste het bepaal dat geen persoon oor die ouderdom van veertig jaar as reservis aangestel mag word nie. Dit beteken dat boere wat onder die ou komandostelsel opgelei is uitgesluit is. Hierdie kriteria sal volgens Van Emminis moontlik hersien word.

Voorsitter vir die TLU noordstreek se landelike veiligheidkomitee, Doors le Roux, sê dat die huidige moratorium geen effek op dié unie se landelike veiligheidsplan het nie. “Ons voel baie sterk dat ‘n onafhanklike siviele veiligheidsstruktuur daar gestel moet word. Ek betwyfel sterk dat daar enigsins ‘n politieke wil van die regering se kant af is om landelike veiligheid daar te stel. Die komandostelses is afgeskaf en die regering het geen alternatiewe strukture daargestel nie.”

Le Roux sê daar is in sekere streke van Limpopo baie goeie samewerking met die polisie, maar dat daar wel streke is waar die polisie antagonisties teenoor siviele veiligheidsstruture is. “Ons kan nie op ‘n reservistestelsel staat maak nie, omdat die regering daardie stelsel kan wegneem en dan is ons kwesbaar. Hoewel ons graag saam met die polisie wil werk om plase te beveilig, kan ons nie langer sit en wag vir hulle struktrure om in plek te val nie. Ons vertrou eerder op ‘n siviele struktuur waarop ons kan staatmaak.”

Intussen het André Botha, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, volgens ‘n berig in Beeld gesê dat die polisie se onvermoë om misdaad te voorkom, deels daartoe gelei het dat daar van Oktober 2010 tot Desember 2010’n toename van  sowat 40% in plaasmoorde was. Hy sê ook dat daar ten spyte van goeie beleide en strategieë nie ’n genoegsame verbetering in misdaadstatistieke in landelike gebiede is nie. – LiN Nuus/Bosveld Bulletin