Beproef Thabazimbi se eie bier

Proe die bier sommer in die brouery of skuif oor na die proe-kamer langsaan en kuier daar verder.

THABAZIMBI – Met die klomp vakansiedae wat op ons afstorm teen die einde van April, is dit nou reeds tyd om te dink hoe jy jouself en gesin asook al die familie wat kom kuier, gaan vermaak.

Die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo wat op 29 en 30 April op Thaba Park aangebied word is reeds genoeg rede om jou huis oop te gooi vir familie en vriende wat vanaf die stad kom kuier. Soos gewoonlik beloof dit om ‘n groot trekpleister vir besoekers aan Thabazimbi en omgewing te wees.

Dan is daar die meer volwasse vermaak deur ‘n draai by Dewside Brouery in Thabazimbi te maak en te kom kyk wat in die brouery aangaan. Dit is nou nie een van daardie brouerye met die groot ketels soos mens op The Thirsty Traveler op TV sien nie, maar ‘n  Mikro-brouery op ‘n heel groter skaal as wat die tuisbrouers bier brou. Die beginsel en metode is egter presies dieselfde soos dit in die groot brouerye geskied.

Pakkette is beskikbaar vir groepe van vier tot tien persone en kos R150 per persoon. Hiervoor kry jy geleentheid om die brouery van nader te beskou en word die biermaakproses verduidelik. Twee 300ml glasies Dewside Ale asook ‘n platter per twee persone is ingesluit by die prys. Daar kan dan lekker gekuier word terwyl kennis oor die biermaakproses uitgeruil word. Jy stap nie leë hande weg nie, want oppad uit ontvang jy ‘n hele liter Dewside Ale. Die gebottelde bier is nie te koop nie en is ook nie beskikbaar by enige drankwinkel nie.

Die toere is ongelukkig net beskikbaar vir persone ouer as 18 jaar. Vooraf besprekings moet gedoen word deur 014 777 1434 te skakel. Die bier-toere word weeksdae vanaf 12:00 tot 16:00 aangebied en Saterdae vanaf 10:00 tot 14:00.

Indien jy lus is vir nog kuier, is jy welkom om dit in die Dewside restaurant en kroeg, wat deel uitmaak van die brouery opset, te doen. Ligte etes en ‘n verskeidenheid van Dewside geregte word bedien. Die kroeg en restaurant is ten volle gelisensieer en open weeksdae om 12:00 en Saterdae om 10:00.

Sondae is dit gesluit.

Maak gerus gebruik van die fasiliteite al stel jy nie belang in die biertoer nie. Geniet die rustige en meer formele atmosfeer van die restaurant of kuier lekker saam in die kroeg op die kelderverdieping. Voorsiening vir tafels word ook buite op die stoep gemaak.

Dewside Restaurant en Kroeg sal al die vakansiedae oop wees.