GeneralTop Stories

Nog ‘n trok sien sy as

Die derde vragmotor binne die bestek van ‘n maand het verlede Vrydag op die Thabazimbi-Dwaalboompad aan die brand geslaan. Foto: Werner Taljaard.

THABAZIMBI – Die derde vragmotor in ‘n kwessie van een maand het verlede Vrydagoggend 18 Maart net na 09:00 op die R511 tussen Thabazimbi en Dwaalboom aan die brand geslaan.

Die brand het ontstaan terwyl die vragmotor nog beweeg het en die bestuurder moes dit eers tot stilstand bring voor hy na veiligheid kon vlug. Niemand is beseer nie.

Boere van die omgewing asook Kumba se Nooddiens-span, onderleiding van mnr Henk Havenga, het die brand onder beheer gebring nadat die Thabazimbi Munisipaliteit se brandweervoertuig weereens nie daarin kon slaag om ook hierdie brand nie te kon blus nie, hierdie keer was daar nie sprake van water in die brandweerwa toe hul by die toneel opdaag nie.

Die uitslag van die forensiese ondersoek wat kan bepaal wat verkeerd geloop het, was ten tye van pers nog onbekend. ‘n Vermoede bestaan wel dat dit ‘n dieselpyp was wat deurgeskaaf het, wat moontlik kon lei tot die brand. Die vragmotor het voer na Obaro Dwaalboom vervoer, toe die voorval plaasgevind het.

Die agterste wa kon gered word. Na bewering het boere van die omgewing ‘n gedeelte van die oorblywende voer gebuit, wat gaan lei tot ‘n klag van diefstal by die polisie. Die totale skade aan die vragmotor, sleepwa, sowel as die vermiste en verbrande voer beloop honderde duisende rande.

Mnr Riaan Taljaard, eienaar van Taljaard Vervoer in Rustenburg het reeds alle wrakstukke van die toneel verwyder.