Nóg ‘n inbraak by Bosveld-Oord

THABAZIMBI – Verlede jaar was ‘n aantal motors by Bosveld-Oord gesteel. Die afgelope paar maande word inwoners by Bosveld-Oord geteister deur inbrake by die woonstelle.

‘n Inwoner, Irene Freislich, het die afgelope week weer deurgeloop. Toe sy Woensdagoggend 23 Maart ongeveer sesuur wakker word, was alles nie pluis in haar woonstel, no 21, by Bosveld-Oord nie.

Die deur tussen die woonstel en toegeboude buitestoep het half-toe gestaan en die veiligheidsdeur na buite was wawyd-oop. By nader ondersoek het sy vasgestel dat ‘n inbreker (of inbrekers) die skadunet, wat ‘n opening naby die dak bedek, gesny het en daardeur toegang tot die woonstel verkry het en toe die veiligheidshek van binne oopgesluit het.

‘n Splinternuwe elektriese klitser en strykyster is gesteel, asook ‘n spieël met vergulde houtsnee-raam. Nog ‘n skildery was afgehaal van die muur en het onder op die vloer gestaan, so asof iemand sou terugkom daarvoor. Een van Irene se baadjies het buite by die agterdeur gelê.

Die vrieskas en yskas het ook deurgeloop. Al die vleis in die vrieskas en heelwat kos uit die yskas is gesteel.

Volgens Irene kan sy glad nie verstaan hoe die diewe dit reggekry het om so stil te werk te gaan sonder om haar wakker te maak nie. Sy is ‘n ligte slaper en die geringste geluid maak haar normaalweg wakker. Die inbreker(s) was immers slegs enkele meter van waar sy geslaap het, doenig. Sy wonder ook waarom juis háár woonstel, in die middel van die kompleks, spesifiek geteiken is.

Volgens die inwoners is dit die derde of vierde inbraak die afgelope drie maande by Bosveld-Oord. Heelwat teorieë bestaan oor wie vir die inbrake verantwoordelik is, maar almal het saamgestem dat slegs ‘n deeglike ondersoek deur die polisie die ware skuldige sal uitwys.

Hennie Pauw