N1 dié langnaweek ’n makker kalant

Die weer, Jan Tuisbly se karretjie óf die petrolknyptang het verkeersvolumes op die besige N1-snelweg dié langnaweek tot normale “naweekverkeer” verlaag.

Die pad was “relatief stil” teenoor vorige langnaweke, het mnr. Manie van der Merwe, provinsiale verkeershoof op Modimolle, vandeesweek aan Die Pos gesê.

Volgens hom wag mense waarskynlik vir die skole om te sluit voordat hulle die lang pad vat na vakansiebestemmings of andersins het die weer mense binnehuis gehou.

Hier en daar was daar die afgelope naweek karavane op pad na die Noorde, maar dit was niks anders as normaalweg tydens naweke nie.

Van der Merwe het gesê dit is tans bitter moeilik om verkeerspatrone vooruit te bepaal vir noodsaaklike beplanning.

Hoewel verkeerslui vanaf Vrydag, 25 Maart, ’n skerp toename in verkeer op die N1 verwag weens die skoolvakansie, geld die normale verkeerspanne die naweek om wet en orde te handhaaf.

Vir hom is veral sigbaarheid van verkeerslui belangrik op dié besige pad.

Van der Merwe het ’n beroep op motoriste gedoen om by die spoedgrens en padreëls te hou ter wille van hulle eie veiligheid en dié van ander padgebruikers.
Net die Vaalwaterpad in die Waterberg-omgewing is tans onder konstruksie. Dit raak groot dele van die pad.

Van der Merwe het ’n ernstige beroep op motoriste gedoen om versigtig te wees en stadig te ry op dié pad. Party plekke is net een baan beskikbaar weens die herstelwerk aan die pad.

Skole in Limpopo en sy buurprovinsies, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga, sluit op Vrydag, 25 Maart, en heropen vir die tweede kwartaal op Maandag, 11 April. — LiN Nuus/Die Pos