Thabazimbiër stel ondersoek in na plastiek ter see

Willemien Calitz van Thabazimbi op die vaart tussen Namibië en Uru guay. Sy was deel van ‘n navorsingspan wat plastiekbesoedeling ter see ondersoek het.

Al ooit gewonder waar die wêreld se plastiek opeindig? In die oseaan. Só bevestig Willemien Calitz (22) ’n omgewingsjoernalis wat pas van ’n plastiekbesoedeling-ekspedisie in die Suid-Atlantiese oseaan teruggekeer het.

Calitz, wat gebore is in Thabazimbi en ‘n oud-leerling van Hoërskool Frikkie Meyer is, het ook al vryskutwerk vir Die Kwêvoël gedoen. Sy het Walvisbaai op 6 Januarie saam met die Five Gyres Instituut op ’n seilboot verlaat, en na meer as 30 dae op die oseaan in Uruguay aangeland. Die instituut is tans besig om die vyf groot ‘gyres’ (oseaangetye wat plastiek laat akkumuleer as gevolg van ’n hoogdruksel) fyn te kam opsoek na mikro-en makroplastiek.

Die groep aanboord Sea Dragon het bestaan uit ses Amerikaners, twee Suid-Afrikaners, ’n Nieu-Seelander en ’n Brit. Calitz en Simon Bannister is die eerste Suid-Afrikaners wat aan hierdie navorsingsprojek deelgeneem het en Calitz is ook die jongste vrou ter wêreld wat deel het aan hierdie navorsingsprojek.

“Die ekspedisie was uitdagend. Ek was voorheen nog nooit op ’n boot nie. Om te seil en jou navorsingspligte na te kom is fisies uitdagend, veral as jy seesiek raak. En dan is daar ook die emosionele uitdaging om soveel plastiek in die oseaan te sien,” sê sy.

Die groep het elke 60 seemyle ’n treiler met ’n poreuse sakkie aangeheg deur die oseaan gesleep. Na ’n uur het hulle die treiler uitgelig en die inhoud van die sakkie op ’n sif uitgeskraap en geanaliseer. “Ons het meer as 60 monsters geneem en elkeen het met klein stukkies plastiek teruggekom. Die oseaan is ’n bak sop gevul met plastiek.”

Calitz voeg by dat die plastiek ’n gevaar vir die mens inhou. “Plastiek trek chemikalieë aan. Visse eet plastiek wat nie verteer word nie, en die chemikalieë in die water word dus in hulle bloedstrome opgeneem. Ons eet vis en kry weer die chemikalieë in ons bloedstroom. Vir eens baat dit die mens nie om bo aan die voedselketting te wees nie.”

“Die mens moet sy plastiekverbruik heroorweeg. Wat gebeur met plastiek as jy klaar is daarmee?”

Calitz het sopas haar Bphil Honneursgraad in joernalistiek by Stellenbosch Universiteit voltooi en haar inspirasionele werk word by die omgewingskoerant, Green Times, voortgesit. Haar ouers, Hans en Mariaan Calitz, is baie trots op haar.