R124miljoen wins vir Skryfbehoeftes

Die DA in Limpopo het met skok gereageer op berigte in die media die afgelope naweek aangaande nog ‘n skandalige tender waardeur ‘n tenderaar ’n beweerde R124miljoen wins gemaak het.

Volgens die berig is die tender vir skryfbehoeftes vir skole deur die Limpopo Onderwysdepartement aan die firma Edu-Solutions toegestaan, dit na bewering, sonder die kennisname of aanbevelings van die relevante toewysings- en evaluasie -komitees.

Wat die saak nog vererger is die feit dat die departement miljoene rand sou gespaar het indien hulle die skryfbehoeftes direk vanaf die verskaffer aangekoop het. Die feit dat ‘n middelman gebruik is sonder die kennisname van die relevante statutêre komitees werp ‘n baie suspisieuse skaduwee oor die hele transaksie.

Volgens me Desiree van der Walt – DA MP vir Limpopo, stel die Publieke Finansiële Wet dit duidelik dat die uitvoerende rekenmeester, in hierdie geval HOD Benny Boshielo, ‘n behoorlike aankope- en voorsienings-stelsel wat eerlik, uitvoerbaar, mededingend en koste-effektief is moet handhaaf. Sy sê dit is duidelik dat die keuse vir hierdie stelsel wat die koste uitermatig gelaai het baie verdag voorkom en dat dit teenstrydig met die voorskrifte van die PMFA is.
Sy sê voorts dat sy persoonlik die saak by die kantoor van die Openbare Beskermer gaan aanmeld en versoek dat ‘n dringende ondersoek geloots word betreffende alle aankoopstelsels wat teen die voorskrifte van die PMFA funksioneer.

Miljoene rande van Limpopo belastingbetalers word gemors as gevolg van ‘n akute finansiële wanbestuur deur hierdie departement.