KunsteGrot en Dewside span saam vir meer teater genot

THABAZIMBI – ‘n Vrienskaplike ooreenkoms tussen die KunsteGrot en Dewside Restaurant, wat slegs tot voordeel sal wees vir teatergangers, is pas beklink.

Dewside Restaurant in Tweedelaan, perfek geleë en slegs “om die hoek” van die KunsteGrot sal op die aande wat daar aanbieding by die KunsteGrot, is tot na die vertoning oop wees.

Teatergangers  kan voor of na die vertoning steeds ‘n ete by Dewside kom geniet en dalk verdere geleentheid kry om saam met die kunstenaars te kuier.
Geleentheid sal ook geskep word dat hulle voor die tyd ‘n skemerkelkie en  voorgereg geniet, hul hoofmaaltyd solank bestel en na die vertoning terugkom vir die ete wat dan sal regstaan. ‘n Persentasie van die inkomste verwek uit teatergangers wat hiervan gebruik gaan maak, sal aan die KunsteGrot geskenk word vir uitgawes soos huur en kunstenaarsoptredes.

Die aanbiedings van die KunsteGrot die res van die jaar is ‘n interessante verskeidenheid. Op 21 Mei kom “Groet die Grotoupa” nou rêrig kuier. Daar is nog so ‘n twintigtal kaartjies beskikbaar vir diegene wat dit dalk nie op 12 Februarie kon maak nie. Kaartjiehouers kan met die gestempelde kaartjies nog steeds tot en met 20 Mei by Butlers gaan eet en 10% afslag kry.

Op 24 Junie kom Frank Opperman met “Rooikaart”. Begin dus die vakansie op die regte noot met dié skitterende komedie.

Nà 19 Oktober sal Thabazimbi ook nie meer dieselfde wees nie. Nataniël kom vir ons kuier. Dié optrede is in die  Bioskoopsaal en word stylvol  met ‘n drie-gang ete aangebied. RiVoToneel gaan ook eersdaags begin repeteer, en beloof om vir ‘n paar lekker ontspan-aande te sorg.

Vanaf die KunsteGrot ‘n spesiale woord van dank aan al ons ondersteuners, borge en donateurs sonder wie ons nie kan voort nie. Die Kwêvoël, Annelie van Deo Volente Gastehuis;  Rona van Plaaskombuis; Danie van Medhof Apteek,  Sorika en Rhonda van Sorizty Spa, Victor Potgieter, Albert du Plessis, Hannes van SuperSpar en Rita du Plessis  vir deurlopende ondersteuning.  Dit word baie waardeer. Vir alle navrae en besprekings, kontak Rita by 083 7448559 of rivol@telkomsa.net.