KANSA oriënteringsessie vir 3 nuwe koördineerders

Die drie nuwe Gemeenskapskoördineerders is aangestel by KANSA en het ‘n oriënteringsessie by El Shadai Gastehuis op 10 Maart deurloop, voor vlnr: Santie Oberholzer van Polokwane, Estelle Diedericks van Potgietersrus, Marita Swart – Nasionale Spesialis: Sorg en ondersteuning, Miemie Nel – Streeksbestuurder: Rustenburgstreek en Isabeau du Preez van Thabazimbi.

THABAZIMBI – KANSA (Kankervereniging van Suid-Afrika) het op Donderdag 10 Maart ‘n oriënteringsessie by El Shadai Gastehuis vir hul drie nuwe Gemeenskapskoördineerders aangebied.

Isabeau du Preez van Thabazimbi, Santie Oberholzer van Polokwane en Estelle Diederiks van Potgietersrus sal voortaan die taak van Gemeenskapskoördineerder verrig.

Wêreldwyd veroorsaak kanker meer sterftes as Vigs, Malaria en TB tesame en na verwagting sal die dodetal in die volgende paar dekades dramaties toeneem.  Tot 40% van alle voorkombare kankers kom voor in die lae en middel-inkomste lande, waarvan Suid-Afrika ook deel vorm. Een uit elke vier Suid-Afrikaners word deur kanker geraak. Baie kankers kan voorkom word deur tabakprodukte te vermy, volgraan en lae vet kosse te eet, genoegsame skoon, vars water te drink, gereeld te oefen en gewig binne perke te hou. Baie kankers kan met vroegtydige opsporing en toepaslike behandeling genees word. Die vernaamste kankers wat Suid-Afrikaanse mans affekteer is prostaat-, long-, en slukdermkanker. Die mees algemene kankers wat Suid-Afrikaanse vroue affekteer is bors-, serviks- en kolorektale kanker. Suid-Afrika het na Australië die hoogste voorkoms van velkanker in die wêreld. Honderde Suid-Afrikaners sterf jaarliks aan velkanker.

KANSA  bied ‘n unieke en geïntegreerde diens aan die publiek en aan almal wat deur kanker geraak is. As die voorste rolspeler in kankernavorsing (R4.5 miljoen word jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindings en kennis deur die navorsing opgedoen aangewend om die gesondheidsprogramme te rig en om die waghondfunksie tot voordeel van die publiek te verskerp.

KANSA beveg kanker deur die publiek in te lig oor die belangrikheid van die vroeë opsporing van kanker waardeur meer effektiewe behandeling en ‘n groter kans op herstel moontlik word.

Skakel Isabeau du Preez vir meer inligting by 072 698 0709.