Oud onderwyseres sterf

THABAZIMBI – ‘n “Juffrou” wat menige inwoner van Thabazimbi of hulle kinders of kleinkinders aan die plaaslike Laerskool onderrig het, het die afgelope Sondag, 6 Maart 2011, in die ouderdom van 89 jaar stil heengegaan.
Mevrou Babs Laufs was reeds ‘n gesoute grade-onderwyseres toe hul in 1970 vanaf die Wesrand hul hier kom vestig het. Dit het dan ook nie lank geduur nie of sy was weer in die tuig. Onder skoolhoofde soos onder andere Mnre Dolf Labuschagne en Gerrie Muller het sy onbaatsugtig en stiptelik haar roeping as opvoeder bly uitvoer.
Na die afsterwe van haar eggenoot, wyle Gert Laufs, in 1995 het sy vir nog twee jaar in haar huis op Kwaggasvlakte aangebly waarna sy haar in Pretoria by die Aftree-oord Ons Tuis gaan vestig het. Hier het sy tien rustige jare naby haar familie en kinders deurgebring totdat haar wens vervul is om “terug te kom huis-toe”.
In 2007 word sy dan ook een van die eerste inwoners van die plaaslike Tambotie-Versorgingsentrum vir verswakte bejaardes. Vir net meer as vier jaar kon sy die voorreg van liefdevolle en ondersteunende versorging hier ervaar.
Sy laat twee kinders, ds Dirk Laufs en sy tweelingsuster Marietjie en drie kleinkinders en ses agter-kleinkinders na. Die begrafnis diens is op Vrydag 11 Maart om 10:30 in die NG gemeente van Thabazimbi.