Ontvoering eindig in Thaba

Mev Jacomien Fourie is op Dinsdagoggend 8 Maart uit haar tuiste in Mokopane ontvoer en eers om 17:00 buite Thabazimbi opgespoor.

MOKOPANE – ’n Erg getraumatiseerde inwoner van Mokopane (Potgietersrus), mev Jacomien Fourie, sterk tans by familie in Thabazimbi aan, nadat sy op Dinsdagoggend 8 Maart omstreeks 11:00 in haar vanuit haar huis ontvoer is.

Mev Jacomien Fourie (in haar vyftigs) is na wat verneem word vanuit haar woning in Impalapark in Mokopane deur twee ontvoerders ontvoer.

Fourie, die Kantoorbestuurder van Mokerong Landroshof, het tuis aangesterk na ’n onlangse rugoperasie. Volgens me Fourie se eggenoot, mnr Lofty Fourie, wou sy ’n rekening in die sakesentrum gaan vereffen, maar moes terugkeer huis toe om die spesifieke rekening te kry. Tuis het sy besluit om vinnig ’n huishoudelike takie buite te verrig en met haar terugkoms in die kombuis, het die twee ontvoerders haar ingewag.

Gedurende ’n stoeiery wat blykbaar in haar woning plaasgevind het kon Fourie daarin slaag om haar man met haar selfoon te kontak.

Na wat verneem word was mnr Lofty Fourie uit die veld geslaan toe sy hom kontak en kon net hoor iets is drasties verkeerd. Hy het sy vrou onmiddellik probeer terug bel, maar haar  foon was toe reeds afgeskakel.

Mev Fourie het die twee ontvoerders ingelig dat haar man oppad is. Dit het hulle laat skrik en is sy gedwing om as chauffeur in haar eie ontvoering op te tree sodat hulle in haar motor kon vlug.

Die Valke Buurtwag, in samewerking met plaaswagte, die SAPD, gemeenskapslede, Suricat Sekuriteit en spoorsnyers het almal saamgespan om Fourie op te spoor.

Volgens ’n ooggetuie is Fourie se geel Hyundai Atos kort na die ontvoering in Pretoriusstraat opgemerk. Die ooggetuie meen Fourie was agter die voertuig se stuur met ’n persoon agter op die passasiersitplek. ’n Volskaalse soektog is na haar geloods.

Fourie was in besit van ‘n tweede selfoon en sy het daarin geslaag om vir haar man ‘n sms te stuur. Dit het min of meer gelees: “Ek is op die Markenpad. Een is afgelaai. Drywer is gedrink.” Die boodskap het almal wat aan  die soektog deelgeneem het, onmiddellik in die rigting van Marken en Vaalwater laat haas.

’n SAPD helikopter van Polokwane is ook ontbied en ’n brigadier van die SAPD het Fourie probeer opspoor deur middel van haar selfoonsein. Die koördinate van die voertuig se beweging is deur middel van haar selfoonsein omstreeks 14:15 aan die spoorsnyers deurgegee.

Na berig word het mnr Fourie later ’n oproep van sy vrou  ontvang. Sy het verskriklik gehuil en gesê die ontvoerders het uit die motor geklim. Die sein is toe weer onderbreek en die soektog het voortgeduur. Drie privaat helikopters van wildplaaseienaars in die Thabazimbi en Vaalwater area het ook help soek.

Die ontvoerders was na bewering onder die invloed van alkohol en het by sjebeens gestop om nog alkohol aan te skaf. Na bewering het die bestuurder afgeklim en het die tweede aanvaller oorgeneem en het hy verder doelloos in ’n rigting bestuur. Dit was eers nadat hy mev Fourie weer wou teister, dat sy die geleentheid gekry het om hom met skoppe te immobiliseer sodat sy met haar voertuig kon vlug.

Mev Fourie het die Marken area herken, maar was egter so getraumatiseer dat sy vas geglo het dat haar ma, wat jare reeds op Koster woonagtig is, steeds in Thabazimbi woon. Die selfoon waarmee sy kon kontak maak met haar man, was onbruikbaar nadat sy as gevolg van skok nie die geheime kode reg in getik het nie. Met haar aankoms in Thabazimbi, het alless egter vreemd gelyk en het dit haar verder verwar. Sy kon blykbaar nie die pastorie waar sy as kind by haar ouers, ds Giep en mev Anna Scheepers grootgeword het, vind nie en kon slegs ‘n gastehuis op die Lephalalepad onthou. Oppad soontoe het die polisie se padblokkade haar afgetrek en kon hulle haar eggenoot van haar veiligheid in kennis stel.

Dit was omstreeks 17:00 en sy was alleen in die motor. ’n Ambulans van Thabazimbi is onmiddellik ontbied waarna Fourie na die Medi-Clinic Privaathospitaal vervoer is vir behandeling. Die motief vir die ontvoering blyk steeds onduidelik. Die polisie ondersoek duur voort.

Mnr Doors le Roux, voorsitter van die TLU SA Noord Veiligheidskomitee het gesê dat die motief vir die skokkende aanval grootliks onbekend, maar baie verdag is. Mnr Jan Viljoen, Voorsitter van TLU SA Noord, het die ondersteuning van die gemeenskap aan die gesin toegesê. Hy het haar en haar gesin sterkte toegewens en die hoop uitgespreek dat sy die krag sal ontvang om weer op te staan.