Ons lesers skryf – Bel die Brandweer!!! Watter Brandweer???

Daar is min dinge wat my so maklik ontstel as ONPROFESSIONALITEIT. Hiermee het ons deeglik te doen gehad op Saterdag 26 Februarie toe ek ‘n oproep ontvang het oor ‘n swaar vragmotor wat op die R511 (Brits-pad) aan die brand geslaan het.

Die plaaslike “Munisipale Brandweer” is onmiddellik gekontak om die voorval aan te meld. Die “Brandweerpersoneel”, wat eintlik maar net Verkeersbeamptes is wat die rol van Brandweermanne vervul (sonder enige Brandweerkwalifikasies), is uitgeroep. Binne 20 minute was die Brandweervoertuig op die toneel.

Die “Brandweervoertuig”, ‘n nuwe een wat in Augustus laasjaar aangeskaf is, se hoëdrukpomp was buitewerking omdat die drade van die pomp ontkoppel was. Danksy Henk Brits van PaintNet en Werner Taljaard van Kumba was daar ekstra brandbestrydingsapparaat beskikbaar gestel. Mettertyd is die laedrukpomp van die Munisipale Brandweervoertuig, met behulp van lede van die publiek, aan die gang gekry. Die vragmotor was toe reeds amper klaar uitgebrand.

Verkeersbeampte Gerrie Visagie, wat die eerste lid van die Verkeersafdeling op die toneel was, het kort na sy aankoms ‘n tweede brandweervoertuig ontbied toe hy besef dat die eerste brandweerwa nie werk nie.

Toe die tweede brandweerwa op die toneel verskyn en die laaste vlamme van die voertuig geblus moes word, het ‘n verdere onaangename verrassing op die Verkeersbeamptes gewag. Die tweede brandweerwa se “bunkers” het geen toerusting bevat nie…

Verstaan my reg, ek het nie ‘n probleem met enige van die Verkeersafdeling se personeel assulks nie. Ek het wel ‘n probleem met die onprofessionele wyse waarop die Brandweer-afdeling bestuur en hanteer word. Die Verkeerspersoneel voer ook maar net opdragte uit van ‘n onprofessionele bestuurder.

Ek wil graag my dank uitspreek vir ‘n uitgesoekte gemeenskap soos dié van Thabazimbi en omgewing wat bereid is om hulp te verleen in tye van nood. Wat sou ons doen sonder die omliggende myne, veral Kumba Iron Ore en sy uitstekende bestuurspan, wat ook altyd daar is om te help, dag of nag, en op wie ons ons kan verlaat?

Dinsdag 1 Maart is ‘n groot rampoefening geloods waartydens die 4 Anglo myne, in samewerking met die plaaslike nooddienste (uitgesluit die Munisipale Beskermingsdienste), getoets is vir die hantering van ‘n noodgeval. Die operasie was baie suksesvol.

Henk Havenga (Thabazimbi Krisis Beheer)

(Volgens mnr Johnny Motaung, Hoof van Verkeer en Beskermingsdienste van Thabazimbi Munisipaliteit, is die Brandweervoertuig op Woensdag 2 Maart 2011 herstel en weer funksioneel. Die kwessie van die ander brandweervoertuie word ondersoek.- RED)