Northam VLU reik uit na bejaardes

Die dames van Northam VLU tydens hul besoek aan die Tambotie Huis vir Verswakte Bejaardes, agter vlnr: Mari Meintjes, Amanda Meintjes, Me Marie Steenekamp (Koördineerder van Bejaarde Sorg), Tambotie Huis se kok Lynette Lewis, ‘n werker en Caroline Nguwe ('n gekwalifiseerde stafverpleegster). Voor: Hannetjie du Plessis.

THABAZIMBI – Die dames van Northam VLU het op Donderdag 17 Februarie 2011 die Tambotie Huis vir Verswakte Bejaardes besoek.

Die dames het met ‘n mandjie vol pragtig-versierde pakkies snoeperye opgedaag, en elke bejaarde het ‘n pakkie ontvang.

Me Marie Steenekamp, koördineerder van Bejaarde Sorg, het haar dank uitgespreek teenoor Northam VLU, vir die tyd wat hul ingeruim het om in te loer by die bejaardes. Sy sê: “Moet asseblief nie die Bejaardes vergeet nie! Kom kuier gerus by Tambotie Huis.”

Dr Buys, wat die visie gehad het om dié spesiale plekkie vir bejaardes op die been te bring, het ook die dames kom groet. Aanvanklik sou daar slegs plek vir 10 verswakte bejaardes wees, maar daar word tans 17 pasiënte gehuisves.

Tambotie Huis is geheel en al afhanklik van skenkings, en die gemeenskap word gevra om hul deel by te dra vir die voortgesette bestaan van Tambotie. Me Steenekamp bedank ook die gemeenskap vir skenkings reeds ontvang. Heelwat skenkings word nog benodig vir die bou van Huis Immergroen.

Northam VLU is tans besig om donasies te in vir Huis Immergroen. Gaan kuier gerus by Tambotie Huis, en vergewis uself van die onbaatsugtige werk wat gedoen word deur Me Steenekamp en haar knap span.