Glasvervoerwa brand uit

So lyk die Zambiese vragmotor wat glas vervoer het en uitgebrand het op die Brits-pad sowat twee weke gelede.

THABAZIMBI – ‘n Glasvervoerwa, waarskynlik vanaf Zambië, het Saterdag 26 Februarie aan die brand geslaan en uitgebrand sowat 4 km weg van die Brits-aansluiting.

Niemand is ernstig beseer in die ongeluk nie. Die passasier van die vragmotor is in die hospitaal opgeneem en die bestuurder het geen beserings opgedoen nie. Hy het weggehardloop. Onsekerheid bestaan nog oor presies wat gebeur het, hoewel daar bespiegel word dat ‘n rem vasgeslaan het.

Twee ontploffings het die toneel geruk toe die petroltenk ontplof het en toe daar vermoedelik ‘n gasbottel ontplof het.

Groot ongelukkigheid bestaan oor die feit dat geen van die munisipale brandweervoertuie in werkende toestand was om die situasie onder beheer te bring nie. ‘n Myn-brandblusser, asook dié van ‘n grondeienaar in die omgewing, is later gebruik om die vuur te help blus.
Hennie Pauw