Toerisme leer oor kliëntediens

Die kliënt kom altyd eerste. Dit was die boodskap by verlede week se opleidingssessie vir eienaars van toerisme-instansies in die Lephalale omgewing. Die opleiding is gratis aangebied deur Tourism Enterprise Partnership, ‘n inisiatief van die Besigheidstrust SA en die Departement van Omgewingssake en Toerisme. Lephalale Munisipaliteit het die lokaal en middagete vir die kursusgangers geborg.

Aspekte soos hoe om ‘n moeilike kliënt te hanteer, hoe om beter na jou kliënt te luister en hoe om jou kliënt te behou het deel van die kursus uitgemaak. Sowat 22 eienaars van gastehuise, lodges en restaurante in die Lephalale omgewing het die opleiding bygewoon.  Volgens Mariana de Villiers van die die Lephalale Toerisme Assosiasie was die opleiding ‘n groot sukses. “Ons het net weer besef hoe belangrik goeie kliëntediens werklik is. Hierdie was ‘n geleentheid selfs vir instansies wat al jare bestaan om net weer opnuut oor kliënte diens na te dink.”

Sy is ook baie opgewonde oor die Munisipaliteit se toegewyde bydrae om die Toerismebedryf in die Lephalaledistrik te laat groei. Daar word vanoggend [Vrydag] ‘n kursus aangebied oor bemarking. Skakel gerus die toerimse kantoor vir meer inligting oor toekomstige kursusse. LiN News/Bosveld Bulletin