Skud die waterdruppels af en kom.

BELA BELA – Moenie ’n dag langer wag met inskrywing vir die Pick n Pay Bosveldmyl op Sondag, 27 Maart, op Bela-Bela nie en daarmee die kans misloop om saam met groot kanonne van die swembad in die nuwe Warmbad-dam by Fish Eagle Bay-klub te klim nie.

Verlede jaar kon deelnemers skouer-aan-skouer met die Olimpiese swemmer, Gerhard Zandberg, swem. Of hy vanjaar weer sy plek gaan inneem, is nog onseker.

Intussen het die Bosveldmyl al deur die jare sy plek onder die oop-waterbyeenkomste op die swem-kalender verdien. Meer as vyfhonderd deelnemers het verlede jaar ingeskryf, terwyl die organiseerders vanjaar méér inskrywings verwag.

Die dag se wins word geskenk vir die opgradering van Hoërskool Warmbad se swembad.

Een van die “klein aanpassings” van die byeenkoms, is dat vroue en mans vanjaar in verskillende groepe deelneem om aan al die swemmers ’n kans te gee om hul beste te lewer.

Volgens ’n woordvoerder sluit die inskrywings vir al die afdelings op Saterdag, 19 Maart. Benewens die prestige-myl van halftien tot halfelf die oggend, is daar verskeie items vir minder-ernstige swemmers. Kom neem aan die pretswem deel of kom kuier net die dag saam. Die reëlings rondom die Myl verloop tot dusver vlot, het die woordvoerder gesê.

Die inskrywingsvorm is by die organiseerders sowel as op die webwerf www.belabelasplash.co.za beskikbaar. — LiN Nuus/Die Pos