Reuse-eis teen polisielede ná nagmerrie-arrestasie

MODIMOLLE – ’n Bosveldse sakeman en sy gesin het ’n skadevergoedingseis van R15 miljoen ingestel teen die minister van polisie, mnr. Nathi Mthethwa, en vyf polisiebeamptes van Modimolle nadat hulle glo onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is.

“Ek en my vrou, Frances (50) en ons vier kinders Anton (32), Yolandi (30), Tanya (23) en Werner (22) het ’n gesamentlike eis ingestel weens die arrestasie asook vir die pyn en lyding wat ons deurgegaan het,” het mnr. Jan du Preez, 54-jarige sakeman van Modimolle, Dinsdag by sy huis gesê.

Die eisdokumente is volgens Du Preez al verlede week op die minister en die polisiebeamptes beteken.

Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder in die provinsiale kommissaris se kantoor, het bevestig dat die polisie bewus is van die kollektiewe eis wat teen die minister en polisiebeamptes ingestel is.

“Ons regsdienste gee aandag daaraan,” het Otto aan Die Pos gesê.

“Selfs al kry ons R15 miljoen se skadevergoeding, sal dit nooit vergoed vir die pyn, trauma en vernedering wat ons deurgegaan het nie,” het Du Preez gesê.

“Met my kan hulle doen wat hulle wil. Ek kan my man staan, maar dit wat hulle aan my gesin gedoen het, is onvergeeflik. Ons is wetsgehoorsame burgers. Dit gebeur deesdae baie dat niks aan die betrokke polisielede gedoen word wat mense onregmatig arresteer nie, juis omdat die belastingbetaler se geld gebruik word om slagoffers te vergoed. Daarom eis ons ook van die polisielede.”

Volgens Du Preez het die gesin se nagmerrie begin nadat hy verlede jaar in ’n oproep ontvang het van ’n senior polisie-offisier in die Modimolle-polisiekantoor. Die offisier het hom in kennis gestel dat die polisie die gesin al lank dophou.

“Die polisieman het gesê hulle weet wie my tuis besoek en hulle weet van my Boeremagbedrywighede. Hy het selfs beweer dat die afgestorwe AWB-leier, mnr. Eugene Terre’Blanche, my ook besoek het. Dis so belaglik dat ek sommer uitgebars het van die lag.

“Ek het nog nooit in my hele lewe iets te doen gehad met die Boeremag nie. Ek is glad nie politiek aktief nie. Nie ek óf my vrou óf my kinders is rassiste nie.”

Dieselfde week het nog het ‘n groep polisiemanne een aand by die plaas opgedaag waar die Du Preez-gesin toe gewoon het.

Die polisielede het versterkings ontbied nadat die rusie in ’n geslanery ontaard het. Minstens dertig polisielede in vyftien polisievoertuie het kort daarna opgedaag. Die gesin se worshondjie is dood nadat een van die polisiemanne hom glo teen die grond gegooi het. Nadat die polisie die plaas deursoek het en beslag gelê het op ‘n pistool, haelgeweer en ammunisie, is die gesin in hegtenis geneem en na die polisiekantoor gebring.

“Ek is ‘n insulien-afhanklike diabeet en my skoondogter het my insulien na die polisiekantoor gebring. Ek moet vier keer per dag insulieninspuitings kry. Die polisie het geweier om vir my die insulien te gee,” het ’n sigbaar ontstelde Du Preez gesê. “Hulle het ook geweier dat ek my regsverteenwoordiger bel.”

Hulle is deur ’n uitgerekte hofgeding nadat die Du Preez-gesin op R1 000-borgtog elk vrygelaat is. Die gesin het saam op dertig klagte tereg gestaan. Die klagte het onder meer die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, regsverydeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer, ingesluit.

“Die hofsaak is maande lank uitgerek en ek het dertien keer in die hof verskyn. Ons regskoste het meer as R300 000 beloop. Ons is almal na die uitgerekte hel vrygespreek op alle aanklagte,” het Du Preez gesê.

‘n Du Preez het gesê die polisiebeamptes wat betrokke was by die beweerde onregmatige inhegtenisneming, is intussen almal bevorder. — LiN Nuus/Die Pos