Omgewingsbestuursplan eersdaags geïmplementeer

Dit is hoe die voorgestelde sones op ‘n kaart van die Waterberg Distrik lyk in die Omgewingsbestuurplan wat binnekort aanvaar sal word.

WATERBERG – Die finale konsep vir die nuwe omgewingsbestuursplan vir die Waterbergdistrik sal binnekort deur die Waterberg Distriksmunisipaliteit geïmplementeer word.

Die doel van die bestuursplan is om riglyne te skep vir grondgebruike in die hele area sodat onversoenbare en onwenslike grondgebruike beheer kan word. So byvoorbeeld word sekere sones geoormerk vir dorpsontwikkeling, ander vir landbou, industriële aktiwiteite of ekotoerisme.

Hierdie plan is veral belangrik in die lig van toenemende industriële en myn-bedrywighede wat tans vir die area beoog word en wat areas, wat geoormerk is vir natuurbewaring en ekotoersime, bedreig.

So word daar ‘n staalsmeltery beoog op die plaas Smokey Mountain noord van Thabazimbi terwyl grootskaalse ysterprospektering reeds aan die gang is bo-op Meletse, die tweede hoogste piek in die Waterberg, oos van Thabazimbi. Daar is ook ander soortgelyke kontroversiële bedrywighede waaroor daar in die dagpers berig was, onder andere prospekteerpermitte wat toegestaan is vir areas binne in Marakele Nasionale Park en Welgevonden, die private natuurreservaat naby Vaalwater.

Die bestuursplan is gedoen in opdrag van die distriksmunisipaliteit en geniet ondersteuning op provinsiale asook nasionale vlak. Daar was aanvanklik met die bestuur van die Waterberg Biosfeer, plaaslike owerhede en ander belangegroepe gekonsulteer waarna die aanvanklike konsep opgestel was. Sedertdien was die dokument aan verskeie fases van publieke insette en deelname onderwerp.

Die bestuursplan het verder saamgeloop met die beplande uitbreiding en konsolidering van die Waterberg Biosfeer. Dit is noodsaaklik om meer formele grondgebruiksones en veral omgewingsbestuursvoorskrifte vir die biosfeer se kern en buffersones te formuleer, so die twee prosesse het mekaar baie goed aangevul. Daar is ook ‘n derde komponent. Dit behels ‘n strategiese ekotoerisme ontwikkelingsplan om dit wat uniek is aan die Waterberg Biosfeer, naamlik sy wilderniskarakter en berg- en savanna-landskappe te bevorder  deur ‘n netwerk van meanderroetes.

Daar word lank reeds gepoog om veral die buffersones van Waterberg Biosfeer te konsolideer sodat ‘n groter geografiese area per uitstek wildernis kan bly en as sulks bemark kan word as ‘n vooraanstaande nasionale- asook internasionale ekotoerisme bestemming. Dit lyk asof die droom nou gaan realiseer wanneer die volgende opdatering van die betrokke biosfeer in 2012 by UNESCO ingedien gaan word.

Die eens verbrokkelde biosfeer gaan nou ‘n enorme gekonsolideerde area beslaan wat in ‘n hoefyster rondom Vaalwater lê en wat die onderskeie areas (waarvan Marakele Nasionale Park een is) verbind.

Die Waterberg Omgewingsbestuursraamwerk se Sone 1, wat ook min of meer ooreenstem met die kern van die Waterberg Biosfeer, is die area wat die hoogste vorm van beskerming geniet, hetsy dit plantegroei, rotstekeninge, diere (bv. die aasvoël kolonie) of landskappe is.

Beskerming van opvangs- en sponsgebiede in die area is belangrik, dus om indringer plantspesies te beheer. Beperkte toerisme sal toegelaat word op voorwaarde dat die aard daarvan nie die unieke karakter van die area aantas nie. Bestaande boerderye, jag- en wildplase sal kan voortgaan, maar landbou aktiwiteite moet bewaringsgedrewe wees en nie verder uitbrei nie, terwyl geen myne of industriëe daar ontwikkel kan word nie.

Sone 2 stem grootliks ooreen met die biosfeer se buffersone en word gesoneer vir natuurlike en kulturele toerisme aktiwiteite. Hierdie area word beskryf as een met ‘n hoë omgewingswaarde as gevolg van sy natuurlike ligging. Bewaring bly steeds ‘n kritiese element en die verwydering van endemiese plante word verbied. Ekotoerisme aktiwiteite soos “lodges”, wildsplase, jagplase asook eko-ontwikkelinge is tipies van die area.

Sone 3 is wild- en beesplaas areas met kommersiële doelwitte. Myne en industrieë word ook beskryf as ongewenste aktiwiteite vir hierdie area.

In Sone 4 word ryk minerale bronne aangetref, waarvan die ontginning in nasionale belang is. Enige ander aktiwiteite, wat altyd hier plaasgevind het, sal kan voortgaan soos gewoonlik.

Sone 5 kom naby die myn-areas voor en maak voorsiening vir industriëe wat altyd daarrondom mag ontstaan.

Sone 6 is een waar daar waardevolle minerale, soos platinum, voorkom in ‘n gebied met hoë estetiese en ekologiese waarde. Die aanbeveling is dat mynery toegelaat word indien skade aan die area beperk kan word.

In Sone 7 word voorsiening gemaak vir dorpsontwikkeling en in Sone 8 vir plattelandse nedersettings.

In Sone 9 word grond gebruik vir hoofsaaklik kleinboerderye en ekotoerisme. Hierdie areas is in- of word omring deur areas met hoë natuurlike, visuele en kulturele waarde. Dit sal ook as aanvulling dien van die Sone 1-gebiede. Geen myn- of industriële aktiwiteite word vir hierdie gebiede aanbeveel nie.

Intensiewe en kommersiële boerdery vind plaas in Sone 10. Hierdie areas moet behoue bly vir hul bestaande gebruik en is belangrik vir voedselsekuriteit.

In Sone 11 word stroke beskikbaar gestel vir grootskaalse liniêre infrastruktuurontwikkeling. Daar is sover moontlik gepoog om dit langs reeds bestaande roetes te hou. Dit word geoormerk vir die ontwikkeling van, byvoorbeeld, paaie, spoorlyne, pypleidings en kraglyne.

Die sones is reeds geografies geplot, en dus nie net konseptueel van aard nie. ‘n Beoogde nywerheidsontwikkelaar of myngroep kan dus nie argumenteer dat ‘n betrokke beoogde aktiwiteit geregverdig sou kon word aangesien daar iewers voorsiening gemaak word vir byvoorbeeld ‘n Sone 6 nie. As die betrokke eiendom nie spesifiek so gesoneer is in terme van die omgewingsbestuursraamwerk nie, sou dit per implikasie bots met die beleid van die distriksmunisipaliteit en sal dit in teorie teengestaan moet word.

Hennie Pauw