Sport

Jabulani Hengelkompetisie op 16 April

THABAZIMBI – Vanjaar word die Jabulani Hengelkompetisie weer aangebied.  Die datum om aan te teken is Saterdag 16 April 2011.  Hierdie keer word die kompetisie deur die AP Kerk Thabazimbi ten bate van die plaaslike AP Kerk aangebied.

Soos in die verlede strek die kompetisie van 07:00 tot 15:00. Inskrywings vind by die hek plaas waar die penne alreeds van 05:00 af getrek kan word.  Inweeg van vis vind om 16:00 plaas. Inskrywing is soos in die verlede R 100 per stok.  Anders gestel, daar word twee hengelaars per pen toegelaat wat elk net met 2 stokke kan hengel.  Dit beteken daar is maksimum 2 hengelaars met ‘n maksimum van 4 stokke per pen.  ‘n Pen kos dus R 400.

By hierdie hengelkompetisie is groot pryse te wen op die dag.  Onder meer kan ‘n groot jag pakket as prys gewen word.  Die eerste prys wenners, met hulle metgeselle, (met ander woorde vier persone) kry ook geborgde verblyf wanneer hul prys gejag word.

Vir ons rugbyliefhebbers word ook voorsiening gemaak,  al moet hy dan dalk ‘n wedstryd lank “hengeltyd opoffer”.  Daar is TV fasiliteite beskikbaar sodat die Super Rugby nie gemis hoef te word nie.

Soos in die verlede is alle persone van alle hengelklubs welkom om deel te neem aan die groot dag.

Die aanbieders beloof dat daar groot en goeie pryse te wen sal wees en maak hul spesifiek vir penkoppe (laerskool-hengelaars) ook voorsiening.
Pryse sal toegeken word in 2 kategorieë:  die ope afdeling:  eerste prys – vir die swaarste karp;  die tweede prys – swaarste kurper;  die derde prys – swaarste sak karps;  die vierde prys – swaarste sak kurpers en die vyfde prys – swaarste van ‘n “ander”/vreemde spesie.  Die penkoppe afdeling is die ander afdeling waar pryse soos in die ope afdeling gaan wees:  eerste prys – vir die swaarste karp;  die tweede prys – swaarste kurper;  die derde prys – swaarste sak karps;  die vierde prys – swaarste sak kurpers en die vyfde prys – swaarste van ‘n “ander”/vreemde spesie.

Dit beloof om, soos in die verlede, ‘n aangename dag langs die dam te wees.

Hengelaars is welkom om vooraf aan te dui dat hulle belangstel om te kom, of bloot net op Saterdag 16 April by Jabulani opdaag. Daar is akkommodasie beskikbaar op vooraf bespreking by Dawie en Linda Snyman by 083 306 6346 of 082 374 9841.

As daar enige navrae oor die kompetisie is, kan hengelaars gerus enigeen van die volgende persone skakel:  Dawie – 083 306 6346;  Kobus – 083 230 4037;  Thomas – 078 127 4145;   Tom – 082 334 1019.

Maak solank ‘n dagboekaantekening vir die Jabulani Hengelkompetisie op Saterdag 16 April 2011.