Interaksie Gholf

THABAZIMBI – Die eerste Interaksie Gholf is vandag, Vrydag 4 Maart te Thabazimbi Gholfbaan.

Maar eerstens moet daar groot verskoning gevra word aan Pietie Terblanche. Sy besondere prestasie van Woensdag 9 Januarie is nog nie genoem nie. Presies 11 jaar, 4 maande en 18 dae na Ettiene le Roux se Putjie-in Een op 28 Augustus 1999 teken Pietie die perfekte bofhou op No 7 aan. Baie geluk, Pietie, ‘n ou “fosiel” kan dit nog steeds doen. Ek hoor dat Billy Pring ook een gespeel het, maar hy was alleen, en dit was ook nie op Sondag nie!

Na Saterdag se “Bloodsomes” is niemand ernstig aangerand nie. Louise van Graan en Alta Venter het bloedlose wen gehad met ‘n net 76. Billy Pring en Bernie Gous was tweede met 77. Drie pare eindig op 81, naamlik Esme Behrens en Christoff Penzhorn, Jannie van Graan en Hans Human en Charlie en Heinrich Penzhorn.

Ses van die klub se juniors gaan binnekort aan die Gauteng Noord se kompetisies deelneem.

Saterdag 5 Maart sal die baan gesluit wees omdat die Bosveld Liga byeenkoms hier gespeel word. Slagspel sal op 12 Maart gespeel word en Die Bosveld Akademie borg die 19de se gholf. Daar word dringend gesoek na ‘n borg vir die Woensdae se Sonsakker.

Vollie Volschenk