HFM wen Interhoër

LEPHALALE – Met HFM se 50ste bestaansjaarvieringe hierdie jaar, is dit net gepas dat hul die vieringe die naweek kon voortsit met die oorwinning van die Interhoër wat op 26 Februarie te Lephalale plaasgevind het.

Die sewe skole wat meegeding het om as Atletiek Interhoër Kampioene van Waterberg gekroon te word was Frikkie Meyer, Lephalale, Warmbad, Ben Viljoen, Nylstroom, Hans Strydom en Piet Potgieter. Hierdie onderskeiding het HFM in 1999 laas te beurt geval. Honderd agt en twintig atlete van HFM het deelgeneem en 12 trofeë verower. Hulle behaal ook onder andere 36 eersteplekke, 32 tweedeplekke en 33 derdeplekke. Die skool wat die naaste aan HFM se prestasie gekom het, was Nylstroom met 67 eerste- tot derdeplekke in totaal.

Die rekords wat verbeter is, was die O/14 seuns aflosspan met 48.28s, dié rekord staan al sedert 1987 asook die O/16 dogters 100m van 12.16s, verbeter vanaf 1990 en -200m met 25.56s, verbeter vanaf 1977. Albei dié rekords is deur Tania Marais verbeter.

Die uitslae in totaal is as volg: HFM wen met ‘n groottotaal van 646.5 punte, gevolg deur Nylstroom in die tweedeplek met 491.5 punte, Piet Potgieter in die derdeplek met 426.5 punte, Hans Strydom in die vierdeplek met 375.5 punte, Warmbad in die vyfdeplek met 367 punte, Ben Viljoen in die sesdeplek met 351.5 punte en Lephalale in die sewendeplek met 327.5 punte.

Die aflosspanne het baie goed presteer met ses eersteplekke, twee tweedeplekke en ‘n derdeplek, waarmee hul 31 punte verdien.

Twaalf trofeë is verower onder andere Beste dogtersatleet van die dag: Tania Marais, Beste seniordogter – baanitems: Tania Marais, Beste baanatleet van die dag: Tania Marais, Beste atleet van die dag: Tania Marais. Sy behaal 1001 ABSA punte vir 100m wat ook haar beste tyd ooit is. Die ander trofeë sluit in Beste dogtersafslosspan, Beste seunsaflosspan, Beste junior seunspan, Beste senior dogterspan, Beste senior seunspan, Beste dogterspan totaal, Beste seunspan totaal en Beste groottotaal.

Die sang met Cirque de Frik eindig in die tweedeplek met 85.56% terwyl Warmbad wen met 87.13%. Die skitterende vertoning vanaf 06:00 tot 17:00 van die dirigente het gesorg vir volgehoue ondersteuning aan atlete op die baan en veld.

HFM se personeel bedank die atlete en spankapteine vir volgehoue oefeninge en harde werk reeds vanaf 2010. ‘n Groot dank ook aan die entoesiastiese en positiewe afrigters, ook buite afrigters, vir ure op die veld, asook spanbestuurders vir hul deursettingsvermoë, asook spanbestuurders vir hul deursettingsvermoë, geduld en oplossings tydens krisisse. Die sangpersoneel word ook bedank vir uithouvermoë, moedhou en aanhou, asook die personeel, betrokke ouers en topbestuur: mnr Erasmus se deurgaanse leiding en me Boshoff vir begrip en bestuur van oefentye tydens skooltyd. ‘n Woord van dank ook aan mnr Campbell vir betrokkenheid, belangstelling, ondersteuning en ook soms baklei vir HFM. ‘n Chinese spreekwoord lui: “Dit neem ‘n hele dorp om ‘n kind op te voed en te onderrig.”

HFM en die personeel wil dan ook graag die volgende individue en instansies opreg bedank vir volgehoue ondersteuning: vriende van die skool, wat selfs nie meer leerders by HFM het nie, die onderskeie myne, die sakesektor, die landbougemeenskap en alle besighede, die voerder Laerskole, met ouers en personeel, die ouers, voogde en grootouers van die leerders, die skitterende beheerliggaam en ouers en vriende wat hul ondersteun, administratiewe-, terrein-, koshuis- en onderwyspersoneel, Die Kwêvoël wat die skole, die leerders en die gemeenskap positief uitbeeld, die hele Thabazimbi-, Koedoeskop-, Rooiberg-, Dwaalboom-, Van Wykskraal-, Platina-, Northam-, Swartklip-, Makoppa gemeenskappe, sowel as die HFM skoolgemeenskap, die onderskeie Kerkgemeenskappe en Sosiale netwerke, alle instansies, borge, donateurs en individue wat nie in bogenoemde kategorieë val nie. Die grootste eer en lof kom ons Hemelse Vader toe. “Saam is ons ‘n Wenspan”.