R50 000 beloning vir Buffelbulle

THABAZIMBI – ‘n Beloning van R50 000 word uitgereik vir die opsporing van drie jong buffelbulle wat tussen 7 en 12 Februarie uit mnr Marius Schrenk se krale verwyder is.

Die jong buffelbulle van sowat twee jaar oud is uit mnr Schrenk se krale op die Klipgat/Rooiberg pad verwyder. Vermoedelik word die bulle steeds in die Thabazimbi-omgewing aangehou, vanwaar hulle moontlik teen onder markprys bemark sal word.

Indien u onlangs ‘n buffelbul gekoop het, wat sonder veeartsenypermitte afgelaai is, kontak mnr Marius Schrenk by 082 708 2495. Geen aksie sal geloots word teen ‘n niksvermoedende koper nie.

Die diere was in mnr Schrenk se krale vir siekte-toetse en mag dalk een of meer van die volgende siektes hê wat ‘n hele kudde kan besmet: bek-en-klouseer, korridor, besmetlike misgeboorte of TB. Hierdie buffels kan maklik per DNS-toetse uitgeken word.

Die saak word deur die veediefstaleenheid ondersoek, kontak Adjudant Offisier KP van Dyk vir verdere navrae by 078 251 0860.