Ons lesers skryf – Wees slang-paraat

Die berig in Die Kwêvoël Vrydag 18 Februarie 2011 oor die yslike Mosambiek Kobra wat by die ouetehuis gevind is, onderstreep weereens die absolute belang vir ‘n waaksame oog, toe deure en vensters. Buurvrou Mariaan Bornman se sewejarige seuntjie is ‘n jaar of drie, vier dood nadat een van hierdie uiters giftige neurotoksiese slange hom binne in sy bedjie gepik het. Selfs die mediese wetenskap kon hom nie red nie.

Twee dae voor Oujaar 2010 kom buurman Gerrie Meyer by ons waar ons buite die huis sit en gesels. “Sit net doodstil. Gee vir my die sambok!”

Nie twee meter van waar ons gesit het maak hy ‘n 1,3 meter spoeg kobra vankant. Die tweede in 12 maande, die eerste in ons slaapkamer. Ons is altyd paraat, altyd bewus van slanggevaar en ons kyk altyd eers voor ons trap.

Maak nie saak hoe veiligheid bewus jy is nie. Slang se kind vind altyd ‘n manier om jou om die bos te lei en die gevolge kan hartverskeurend wees. My waarskuwing is eenvoudig. Probeer jou bes om slang paraat te wees. Veral in die Bosveld met sy derduisende slange. Dit kan jou gesin en familie groot trauma spaar deur net basiese veiligheid toe te pas. Hou deure toe! Sit siwwe voor die vensters want met die Bosveld hitte is toe vensters regtig nie ‘n opsie nie. Skud jou skoene uit voordat jy dit aantrek want ‘n skerpioen se steek kan ook traumaties wees en is ‘n onsmaaklike ondervinding.

Self het ek reeds sewe pofadders en ‘n mamba doodgemaak. Twee pofadders en ‘n mamba in ons vorige huis. Wys jou net dat ‘n mens nooit versigtig genoeg kan wees nie!

Mauri Lombard – Thabazimbi