Krokodil gryp man

BELA BELA – ’n Man se regterarm is afgebyt in ’n dodelike geveg met ’n reuse-krokodil in ’n dam by ’n private natuurreservaat in die Vaalwater-omgewing.

Mnr. George Thomas, ’n gekwalifiseerde senior bestuurder, by Shambala is steeds in die Muelmed-hospitaal in Pretoria waar sy arm ’n dag ná die aanval geamputeer is.

Sy vrou, me. Elsabe Thomas, het aan die Pos gesê haar man is nog steeds “getraumatiseer en geskok, maar ’n rustigheid en kalmte begin intree”.
Die ongeluk by die kaai van ’n dam by Shambala, die reservaat van die miljoenêr-sakeman, mnr. Douw Steyn, was op Vrydag 18 Februarie, omstreeks kwart voor vier. Thomas het gewag vir die boot om ’n roetine-inspeksie op die dam te gaan doen toe die krokodil toegeslaan het.

Drie van die werknemers het nog instandhoudingswerk aan die boot gedoen toe Thomas sy hande in die water afgespoel het, het ’n woordvoerder van die reservaat in ’n verklaring aan Die Pos gesê.

Die krokodil het van onder die kaai op Thomas afgepeil en hom aan die regterarm beetgekry. ’n Geworstel het tussen die krokodil en Thomas ontstaan terwyl die werknemers gehelp het om hom te probeer bevry. Een het hom glo aan sy gordel vasgehou in die hewige gespartel.

Die erg beseerde Thomas het op ’n manier wonderbaarlik losgekom waarna hy na die veiligheid van die boot is.

Sy kollegas het die bestuur in kennis gestel, wat Thomas te hulp gesnel en noodhulp toegepas het.

Luidens die verklaring het alles daarvandaan so vinnig moontlik gebeur.

Shambala se personeel het met Thomas na die naaste toegangshek van Shambala gejaag waar ’n ambulans gewag het.

Hy is behandel waarna die ambulans met hom na Modimolle gejaag het. “Net buite Vaalwater het ’n gevorderde mediese ambulansdiens en paramedici sy noodbehandeling oorgeneem.

Thomas is direk na Muelmed gebring waar hy ’n operasie ondergaan en sy wonde versorg is.

Volgens ’n woordvoerder is sy toestand “bestendig”.

Op Maandag, 21 Februarie is hy terug teater toe weens infeksie in die wond. Dit kom voor veral by bytplekke van wilde diere.

’n Gesinsvriend het gesê die gemeenskap van Vaalwater is geskok oor die tragedie. Elkeen hier wens hom ’n spoedige herstel toe, terwyl “ons ondersteuning en gebede met die Thomas-gesin is”.

Mnr. Albert Pretorius, eienaar van die krokodilplaas Thaba Kwena buite Bela-Bela, het aan Louise Labuschagne van Die Pos gesê die Nylkrokodil is nie aggressief nie, tensy hy bedreig voel of iemand sy gebied betree.

Volgens hom is daar 22 spesies krokodille wêreldwyd waarvan net die Nylkrokodil in Afrika voorkom. ’n Krokodil se kake is geweldig sterk, terwyl ’n uitgegroeide krokodil ’n blouwildebees met gemak onder die water kan intrek.

Die drukking wat krokodille tussen hul kake uitoefen, is sowat 1 000 kilogram per vierkante sentimeter,” het Pretorius gesê. —  LiN Nuus/Die Pos