Geen illusies oor belastinglas

Sanlam sê wat die begrotingsprojeksies aanbetref, is die styging in die begrotingstekort vir 2011/12 en toekomstige fiskale jare in vergelyking met die projeksies in die Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring van Oktober 2010, met die eerste oogopslag teleurstellend. By nadere ondersoek is dit hoofsaaklik te wyte aan laer inkomsteprojeksies eerder as hoër besteding, met ander woorde dit getuig van ‘n meer konserwatiewe benadering.

‘n Verblydende kenmerk van die begroting is die Minister van Finansies se aanduiding dat die uitgawebegroting aan ‘n mate van dissipline onderwerp is en dat alle departemente moet bydra tot die verhoogde befondsing van R6 miljard vir die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente. Verdere besparings van R30 miljard is gedoen om voorsiening te maak vir stygings in ander uitgawe-items.

‘n Ontmoedigende kenmerk is egter die oorgedraagde koste van die 2010-staatsdiensloonooreenkoms, wat oor die volgende drie jaar staatsuitgawes met R34 miljard sal verhoog. Die staatsdiens se loonuitgawes het oor die afgelope vyf jaar met 14% per jaar toegeneem, wat dit twyfelagtig maak dat die toenamekoers soos begroot op mediumtermyn tot 6,6% verminder sal kan word.

‘n Mens moet geen illusies hê oor die toekomstige belastinglas nie. Afgesien van die bykomende belastings wat nodig gaan wees om die voorgestelde Nasionale Gesondsheidsversekering te finansier, stel die Begrotingsoorsig dit baie duidelik dat die huidige posisie nie volhoubaar is nie en laer uitgawegroei en hoër inkomste vereis. Die onderliggende toon van die Begroting is dat toekomstige belastingverhogings swaarder op die hoërinkomstegroepe gaan val, wat groter stukrag aan die Begroting se herverdelingsdoelwit sal verleen. Watter impak dit op aansporings in die ekonomie gaan hê, is n betwisbare punt.

Die Begroting dek ‘n reeks beleidskwessies waaroor mettertyd duidelikheid gekry sal word. Sommige hiervan, veral dié wat met gesondheid en bestaansbeveiliging verband hou, hou belangrike implikasies in vir vergoedingstrukture en arbeidskoste op ‘n tydstip wat ekonomiese groei en werkskepping die hoofprioriteite is. Suid-Afrika is blykbaar net nie in staat om doelgerig op die bevordering van ekonomiese groei te fokus nie, ondanks sy aanspraak dat hy ‘n ontwikkelingstaat is.