Drank dalk betrokke by ongeluk

Die hek wat vermoedelik deur ‘n besope bestuurder op Vrydagaand 18 Februarie stukkend gery is.

THABAZIMBI – ‘n Saak van roekelose- of nalatige bestuur en saakbeskadiging word ondersoek nadat ‘n hek op Vrydagaand 18 Februarie deur tieners wat na bewering onder die invloed bestuur het, stukkend gery is.

Volgens me Marietjie de Beer, woonagtig te Loerielaan, het die ongeluk omstreeks 22:00 gebeur nadat hulle reeds reggemaak het om te gaan slaap. Sy het ‘n harde slag gehoor en haar na haar dogter se kamer gehaas waar hulle deur die venster gesien het hoe die bestuurder van ‘n rooi Hyundai Getz vinnig agteruitry en wegjaag.

‘n Ontstoke de Beer sê sy vermoed dat dit jong tienerseuns was wat van ‘n kuierplek gekom het aangesien hulle nie eers die “ordentlikheid” gehad het om haar om verskoning te vra vir die skade aan die hek nie. Die hek is intussen met draad toegemaak om te voorkom dat de Beer se honde daardeur kruip.

Die Kwêvoël het op Maandag drie bekende paneelkloppers in Thabazimbi genader om van hulp te wees in die opsporing van die skuldiges, maar niemand is nog gearresteer nie.

Die polisie ondersoek tans die saak en enige inligting kan aan konstabel Edith Lekalakala deurgegee word by 014 777 3525 of me de Beer by 083 617 3923.