GeneralTop Stories

Bosveld leeus brul by veiling

Diablo, ’n pragtige leeumannetjie van sewe jaar, is vir R180 000 verkoop tydens Vleissentraal Bosveld se veiling te Sundown Runch Lion Park op 19 Februarie 2011.

SUN CITY – Daar is nog sommer báie brul in die Bosveld se leeus. Dit was die geval by die Sundown Ranch Leeu Park-veiling wat op Saterdag, 19 Februarie, naby Sun City plaasgevind het.

Niemand het regtig geweet wat om van die veiling te verwag nie, bloot omdat leeus reeds vir etlike jare nie op ’n veiling aangebied word nie asook die feit dat die leeu-boerdery die afgelope ruk soms om heel verkeerde redes in die nuus was. Dat leeu se kind nie sommer sy status as koning van die diereryk sal prysgee nie, was duidelik uit die pryse wat behaal is.

Diablo, ’n pragtige leeumannetjie van sewe jaar, is vir R180 000 verkoop. Duma, ’n vierjarige mannetjie het R120 000 behaal. Nog vier mannetjies van 16 maande is vir R24 000 stuk verkoop. ’n Mannetjie van 22 maande is vir R30 000 verkoop.

Volwasse leeu-wyfies se pryse het gewissel tussen R23 000 en R27 000 stuk. Die 16 maande-oue wyfies is vir R10 000 elk verkoop, terwyl die 22 maande-oue wyfies

R13 000 stuk behaal het. Leeu-welpies van nagenoeg vier maande oud het R8 500 stuk behaal.

Vier swartwitpensbulle van tussen 24 en 26 maande is vir R42 000 stuk verkoop. Mnr Niel Swart was die afslaer.

Volgens Vleissentraal Bosveld, wat die veiling aangebied het, kan daar met reg uitgesien word na die komende wild-seisoen. LiN NEWS/Kwêvoël