Bonsmara veiling groot sukses

BELA-BELA – ’n Mens kán weer met beeste boer, veral rooi beeste. Bonsmara-beeste. Dit was die algemene gevoel ná die Alcade Bonsmara-veiling wat op Vrydag, 18 Februarie, by die Warmbad Veemark op Bela-Bela plaasgevind het.

Die 14 Bonsmara-bulle wat aangebied is, is teen ’n gemiddelde prys van R29 400 stuk verkoop. As in ag geneem word dat die helfte van die bulle jonger as 2 jaar oud was, kan ’n mens verstaan waarom verkopers so breed geglimlag het. Mnr Jannie Senekal van Mookgophong het die duurste bul vir R50 000 gekoop. Mnr. Jan de Beer van Waterberg Bonsmara’s in die Alma-omgewing was die trotse teler van die bul.

Vroulike diere van mnr. Boet Moll van Dwaalboom, wat sy totale uitverkoping tydens die veiling gehou het, was veral in aanvraag. Dragtige verse het tot R24 000 stuk gehaal, en ’n gemiddelde prys van R12 135 is vir die res van die 91 dragtige verse betaal. Dragtige koeie en kalwers se gemiddelde prys was R18 650, terwyl die hoogste prys van R25 000 vir sulke koeie en kalwers behaal is. Dragtige koeie se gemiddelde prys was R14 000, terwyl R21 000 die hoogste prys vir dragtige koeie was.

Altesaam 114 dragtige kommersiële verse is teen ’n gemiddelde prys van R8 435 stuk verkoop, terwyl 123 oop verse teen ’n gemiddelde prys van R 5 570 stuk van die hand gesit is. Die hoogste prys vir hierdie verse was R7 000 per kop.

Met sulke pryse kan daar weer met beeste geboer word, was die algemene gevoel na   die veiling. Die veiling was aangebied deur Vleissentraal Bosveld. Die afslaer was Mike Killassy van Vleissentraal Bosveld.