Alle oë op Bela-Bela se twee jong sterre

Aantreklik verby. Dit is Adriaan Bergh van Bela-Bela, wat as die nuwe Mnr. Suid-Afrika aangewys is ná die kroning.

BELA BELA – Die nuwe Mnr. Suid-Afrika is ’n Bosvelder met ’n lýf en ouwêreldse waardes.

Hy is Adriaan Bergh (23) van Bela-Bela, wat op 19 Februarie tydens ’n spoggeleentheid in die Silverstar-casino in Krugersdorp as die land se mooiste man aangewys is.

Bergh is die tweede klein Warrie wat die afgelope tyd die koerante haal. Die ander een is die Protea se sterkolwer, AB de Villiers wat tans in die Krieketwêreldbeker-toernooi in Indië is. Albei is oud-hoofseuns van Laerskool Warmbad en albei se pa’s is dokters op Bela-Bela. Bergh is ook ’n oud-onderhoofseun van Hoërskool Warmbad.

Bergh het vandeesweek tussen sy bedrywighede as die nuwe Mnr. Suid-Afrika tyd gemaak om telefonies met Die Pos te praat. Hy is sover die jongste wenner van dié gesogte titel en is ook gedurende dié glansgeleentheid as Sportman van die Jaar en Bone Wear model of the Year bekroon. Hy is die seun van dr De Wet Bergh, en sy vrou, Karin. Sy drie susters is Alfrieda, Elzbeth en Berna.

Bergh vertel die kompetisie het sy wildste drome oortref. “Dit was ’n ongelooflike gevoel toe hulle my naam aangekondig het. Die oomblik het baie onwerklik gevoel, en het my skoon lam gelaat. Dit was ’n groot verassing gewees.

Die baie boodskappe, oproepe en ondersteuning van sy gesin, familie en vriende staan vir hom uit van dié spogaand. Én die baie geglimlag. “Ek moes die hele tyd glimlag, my wangspiere was skoon seer daarvan na die tyd,” het hy vertel.

Bergh het verskeie pryse ontvang waaronder klere ter waarde van R36 000 van ’n bekende handelsmerk, ’n motor, gesigprodukte, spa-behandelings, vakansies by verskillende plekke, en nog vele meer.

Mnr. Suid-Afrika wat verlede jaar ’n B.Sc. in bourekeningkunde voltooi het, beplan steeds om vanjaar met sy honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria aan te gaan. “Ek sal wag en kyk wat die toekoms inhou, soos wat die geleenthede opduik,” het hy gesê.

Bergh, ’n kranige sportman wat al deel was van die Vodacom Bulls se rugby-oefengroep, wil graag vir die jeug ’n goeie rolmodel wees deur te wys dat sport ’n mens se lewe positief kan beïnvloed. Hy glo dat sport ’n mens kan help om vaardighede aan te leer wat in die alledaagse lewe gebruik kan word.

Bergh wil ook graag met sy titel die aandag op goeie morele waardes en ’n gesonde leefstyl vestig. “Dis belangrik om jou lig uit te straal deur goeie morele waardes na te streef,” het hy verduidelik.

Familie is baie belangrik vir hom en hy is baie geheg aan sy gesin. Hy sê hy wil ondanks van al die kitsroem graag nederig probeer bly.

Mnr Pieter Cornelius, een van die organiseerders, het gesê Bergh het as ’n wenner uitgestaan. “Hy beskik oor goeie leierseienskappe en is daarby ongelooflik nederig. Hy is wat ’n mens as ’n goeie all-rounder sal beskryf.”

Bergh beskou die hele Mnr. Suid-Afrika as ’n onvergeetbare ondervinding, maar dis veral die kroning wat vir hom uitstaan en die baie vriende wat hy gemaak het wat hom ’n leeftyd sal bybly.

“Ek gee aan God alle dank en eer,” het hy gesê oor die kroning en die hele Mnr. Suid-Afrika ondervinding.

Bergh is tans druk besig met verskeie onderhoude, verskynings en ander Mnr. Suid-Afrika verpligtinge. Dit is ook reeds bevestig dat hy Suid-Afrika vroeg volgende jaar by die Mnr. Wêreld-kompetisie gaan verteenwoordig.

“Ek wil net myself wees. Ek gee nie voor nie, what you see is what you get”. Neem kennis Suid-Afrika. — LiN Nuus/Die Pos