Vlagspel by Thaba Gholfklub

THABAZIMBI – Verlede Saterdag was dit die tweede Derek Torlage Slagspel kompetisie. Die wenners was Esme Behrens (67), Willem du Plessis (75) en Louise van Graan (76).

Die span van Wingate het Sondag op Thabazimbi Gholfbaan gespeel en die kompetisie gewen. Dit is egter ‘n goeie ervaring vir ons manne, want die Pretoria se klubs het talle spelers wat van ‘n 0 voorgee af speel.

Die Interaksie Gholf gaan ook binnekort afslaan. Spelers moet asseblief seker maak van hulle spanne. Ongelukkig was die belangstelling van Sages se kant af so power dat daar vanjaar nie Sages-span gaan wees nie.

Die opgradering van die mans se kleedkamer is nou klaar en dit lyk sommer spoggerig. Die klubhuis as ‘n geheel is nou op ‘n hoë standaard. Die volgende gaan hopelik ‘n lugversorging in die saal wees.

Saterdag 19 Februarie speel die dames liga op Potgietersrus en plaaslik gaan daar Vlagspel gespeel word. Donderdag 24 Februarie speel van die Sages in die Driehoekige byeenkoms op Irene. Dan gaan daar bloed loop as daar op Saterdag 26 Februarie “Bloodsomes” gespeel word. Kom maar en vind uit hoe ‘n bloedige spel dit gaan wees.

Vollie Volschenk