Skade aan padtekens lei tot ongeluk

Stoptekens is op die hoek van Hamerkop- en Steenbokstraat verwyder, wat vroeg in Februarie gelei het tot ‘n botsing by dié vierrigtingstop.

THABAZIMBI – Vandale kos die plaaslike Munisipaliteit jaarliks derduisende rande in voorvalle van kwaadwillige beskadiging en diefstal van padverkeerstekens.

So sê mnr Johnny Motaung, Hoof van Verkeersdepartement en Beskermingsdienste van Thabazimbi Munisipaliteit.

Tekens word bekrap, gesteel, gespuitverf en gebreek en die skade is nie bloot finansieel nie. Die verwydering van stoptekens, wat deesdae die teiken van vandale is, hou ‘n wesenlike gevaar in vir padverbruikers.

Die vierrigting-stop op die hoek van Hamerkop- en Steenbokstraat, is een van die plekke wat deur vandale deurgeloop het. Twee van die stoptekens is heeltemal verwyder, met slegs die verf op die pad wat aandui dat daar wel ‘n stopteken hoort. ‘n Ongeluk op Sondagaand, 6 Februarie 2011 kon dus wel verhoed gewees het, mits die stoptekens in plek was.

Volgens mnr Motaung was die verkeersdepartement nie bewus van die verwyderde stoptekens nie, en is dit vervang nog op dieselfde dag wat Die Kwêvoël mnr Motaung vir kommentaar genader het.

Voorts sal die Munisipaliteit moontlik eersdaags spoedbulte in Dertiendelaan, Hamerkop- sowel as Steenbokstraat aanbring wat ten doel het om die padverbruiker tot stilstand by die onderskeie stoptekens te dwing.

Die vierrigtingstop op die hoek van Tiendelaan en Bergstraat is ook ‘n geruime tyd sonder ‘n stopteken en selfs straatnaamborde loop deur onder vandale.

Vandalisme seëvier gedurende vakansietye en langnaweke wanneer skoolkinders, wat die grootste hoofpyn aan die Munisipaliteit verskaf, hul aan kwaadwillige beskadiging van padverkeerstekens skuldig maak.

Die beskadiging van padtekens is ’n misdaad wat in ’n ernstige lig beskou word en as die vandaliste gevang word, sal hulle in hegtenis geneem en beboet word.