Nuwe kantore vir SAVF

THABAZIMBI – Thabazimbi se SAVF-kantoor het aan die begin van Februarie verskuif van Judithlaan na Parklaan 5, agter die NG Kerk. ‘n Uitstalling van SAVF-dienste word gehou op Saterdag 26 Februarie by Touch Koffiewinkel.

Die SAVF besit nou sy eie perseel en kantoorspasie sal nie meer gehuur hoef te word nie. Dit is moontlik gemaak deur befondsing van die Lotto. Hoewel die telefoonnommer (014 777 1093) nie verander het, ondervind die kantoor nog tans probleme met die oorplasing van die Telkom-lyn.
Die afgelope 6 jaar was die SAVF kantore gehuisves in kantore wat deur dr Buys verskaf is en die kantoorhoof, Linda Grobler, en haar span is baie dankbaar vir sy mildelike hulp en ondersteuning in hierdie opsig.

Die Suid Afrikaanse Vroue Federasie oftewel SAVF se maatskaplike dienste is reeds 12 jaar werksaam in Thabazimbi en die kantoor het sy ook sy dank uitgespreek teenoor plaaslike kerke, individue en organisasies wat bygedra het tot die vestiging van die diens in die gemeenskap.

Volgens Grobler is die SAVF die enigste nie-regeringswelsynsorganisasie in Thabazimbi wat die mag het om kinders te beveilig deur middel van ‘n hofproses. In hierdie opsig werk hulle saam met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Tweede Laan.

Die staat help met die befondsing van een maatskaplike werker se pos by die SAVF. Daar is egter twee maatskaplike werkers, ‘n hulp-maatskaplike werker en administratiewe werker werksaam in die SAVF-kantoor. Die ander 3 poste en die lopende kostes van die kantoor moet deur middel van fondsinsameling en donasies gefinansier word.

Die SAVF maak gebruik van vrywilligers vir fondsinsameling en ook met sekere diensleweringstake. Enigeen wat tyd het en graag ‘n verskil wil maak in die gemeenskap, kan gerus aanmeld as vrywilliger.

Hulp word veral benodig met die sortering van die klere en kos-bank, administratiewe take en die vervoer van kinders. Tydens kinderbeskermingsweek, waar tot 6 500 kinders bereik word deur middel van praatjies en ‘n poppekas-aanbieding, word daar ook baie hulp benodig.

Die kantoor hou ‘n uitstalling van hul dienste op Saterdag 26 Februarie by die Touch Koffiewinkel op die hoek van Van der Bijl- en Dertiende Laan vanaf 09:00 tot 15:00.  Honey Juwele stal ook saam uit op hierdie dag en het ‘n geskenk ter waarde van R189 vir elke persoon wat ‘n kaartjie koop van R50. Persone wat nie kaartjies het nie is ook welkom om die uitstallings te besigtig. Kaartjies is beperk en is beskikbaar by 074 123 1307 net tot die 19de Februarie om 19:00. Daar is ook geleentheid vir diegene wat as vrywilliger wil registreer.

Hennie Pauw

 

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.