KunsteGrot ruil toe skielik “Oupa” vir twee 19-jariges

THABAZIMBI –  En toe kon Grotoupa weens onvoorsiene omstandighede nie Saterdag kom optree nie. Dié nuus het die organiseerders eers Vrydagaand ongeveer 21:00 bereik. Daar is gedeurnag en planne beraam.

Teatergangers is toe getrakteer op ‘n gratis vertoning deur die baie talentvolle Collets – tweeling, Beyers en Bertus, wat op baie kort kennisgewing moes kom optree. Bertus se verstandtande is Woensdag verwyder en nieteenstaande die feit dat sy mond nog baie seer was, het hulle ‘n uitmuntende vertoning gelewer.

Die sangloopbaan van 18-jarige Bertus en Beyers Collett tweeling van Montana in Pretoria het ‘n onverwagse hupstoot gekry toe hulle verlede jaar baie goed presteer het in ‘n internasionale kompetisie in New York in die VSA toe hulle aan die jaarlikse International Modeling and Talent Association-kompetisie deelgeneem het.

Talle internasionale sterre, soos die akteurs Elijah Wood, Ashton Kutcher, Eva Longoria en Katie Holmes, het hul sukses aan Imta te danke.

Dit was alles die moeite werd. Beyers is aangewys as die wenner in die afdeling vir individuele sang;, sy broer was tweede en die twee saam het in die afdeling vir groepsang geseëvier.

“Ons was baie verbaas,” het Bertus gesê. “Ons het eintlik net gegaan om waardevolle ondervinding op te doen.”

Die KunsteGrot-bestuur wil net weereens baie dankie sê vir die mense wat verstaan het en dié twee jongmanne met ope arms én harte verwelkom het.  Grotoupa kom nou op 21 Mei en die besprekings bly dieselfde.  Daar is nog ongeveer 30 plekke beskikbaar, so as die datum u pas, bespreek gerus.

Ja, en niemand kan sê daar gebeur nooit iets in Thabazimbi nie, kyk net hierna: Volgende in die KunsteGrot is die Kwartet Cappuccino op 12 Maart.  Vir die liefhebbers van mooi musiek is dit ‘n moet.  Dis nie aldag dat soveel talent ons ou dorpie kom besoek nie!  Dié vier kunstenaars bespeel onderskeidelik die tjello, klarinet, dwarsfluit en saxofoon en al vier spog met net die beste musiekopleiding. Vir meer inligting oor die program, kan Rita gekontak word.  Dit word saam met ‘n kaas-en-wyn onthaal aangebied.  Besprekings kan by Rita (KunsteGrot) asook by Francois (Butler Restaurant – ) gedoen word.

Nog twee datums wat solank omkring kan word is eerstens 24 Junie, dan is Frank Opperman hier met Rooikaart, ‘n skitterende komedie.  Dan natuurlik  19 Oktober wanneer Nataniël sy buiging kom maak.  Dié aand word stylvol met ‘n driegang ete aangebied in die Bioskoopsaal.  Kaartjies is R250 per persoon. Tafels van 10 kan ook solank bespreek word.  Aangesien net ‘n beperkte hoeveelheid hanteer kan word, moet die besprekings  maar so gou moontlik gedoen word.

Volgende week sal daar meer sekerheid wees oor Rudi en Corlea se vertoning op 28 Mei.

Vir alle navrae en besprekings, kontak Rita by 083 7448559/rivol@telkomsa.net