Egiptiese kobra kuier by Bosveld-Oord
THABAZIMBI – Wat ta laat besluit het om in Bosveld-Oord te gaan kuier, weet niemand, maar danksy ‘n wakker Jan en dapper Henk, is daar ‘n nuwe tuiste gevind vir die Egiptiese kobra van 1,3m wat Vrydag amok veroorsaak het in dié Thabazimbiese ouetehuis.
Dit was Vrydag 11 Februarie so kort voor middagete wat Jan, die privaattuinier by Bosveld-Oord, die slang sien inseil het by die toegeboude stoep van Sarah Schoeman in nommer 23 by Bosveld-Oord.
Sy was aan’t gesels met ‘n vriendin, maar het gou besef die dringende geklop in haar venster moet dadelik aandag geniet. Die slang het agter ‘n kas verdwyn en tannie Sarah het vinnig die deur na die res van die huis toegemaak.
Nadat sy eers die polisie probeer kontak het op 10111 (en in Polokwane uitgekom het!) en toe die plaaslike polisie, is hulle deur Gerrie en Piet van die Verkeersdepartement te hulp gesnel. Kort daarna was paramedikus Henk Havenga ook op die toneel.
Hoewel daar ‘n haelgeweer beskikbaar was, het Henk besluit om hom eerder te vang deur sy kop met ‘n stok plat te druk en van agter met die hand te gryp. Daar was eers probeer om die slang te verdoof met ‘n kannetjie insekdoder, maar die slang het nie juis daarop reageer nie.
Om die slang met die hand te vang is nie ‘n metode wat hy aanbeveel nie, sê Henk. Hy het egter 13 jaar met slange geboer en is self ook al ‘n hele aantal kere gepik.
Die slang is later vrygelaat by die Ben Alberts Natuurreservaat, ver weg van enige menslike bedrywighede.
Volgens Havenga kom die Egiptiese kobra redelik algemeen voor in die omgewing. Dit kan groot hoeveelhede van sy vinnigwerkende neurotoksiese gif in die slagoffer spuit wanneer hy pik en veroorsaak dat die pasiënt in respiratoriese nood gaan. Henk meen dat die gif nog vinniger sou werk in ‘n ouer persoon.
Tannie Sarah van Bosveld-Oord beskou dit net as genade dat Jan op daardie oomblik daar langs geloop het en die slang sien inseil het by haar woonstel, en dat alles uiteindelik so goed afgeloop het en niemand seergekry het nie.
Hennie Pauw