Eerste skopboks toernooi vir 2011

Die XKT Skopboks klub van Thabazimbi het goeie resultate tydens die eerste klubtoernooi van 2011 behaal.

JOHANNESBURG – Die eerste skopboks toernooi van die jaar het op 12 Februarie tussen vegters van Johannesburg, Rustenburg, Swartklip en Thabazimbi plaasgevind.

Gevegte in punte-stelsel, ligte kontak, volkontak en ‘grapples’ is aangebied en met groot sukses afgehandel. Beginners en meer gevorderde gevegte is aangebied en die grootste beloning was die ondervinding wat opgedoen was. Dit sal die bousteen en fondasie wees na die aanloop van vanjaar se kwalifiserende toernooie vir die SA kampioenskappe en later Wêreld Kampioenskappe. Daar was van vyfjarige tot dertigjarige studente in aksie, wat ook ‘n paar dametjies ingesluit het. Volgens Shihan Peet van Breda, wat die toernooi aangebied het, verleen dié sport hom goed daaraan toe om alle ouderdomsgroepe te verteenwoordig, veral as dit net vir fiksheid of self verdediging aangewend word.

Vir die Swartklipklub was dit hul debuut deelname met baie potensiaal en goeie resultate te danke aan sensei Johan Vosloo, hoof instrukteur, en sensei Johan Pieterse. Van Rustenburg was dit die harde werk van sensei Niekie Annandale en Shihan Ramond Philips het Johannesburg en omgewing verteenwoordig.

Die deelnemers het hul goed van hul taak gekwyt en word die toeskouers bedank vir die luidkeelse ondersteuning.

Sensei Lourens du Plessis en sensei Michael Buys het as skeidsregters opgetree.