14 Skooltassies vir Graad 1’s

Laerskool Koedoeskop ontvang skooltassies by Solidariteit Helpende Hand vir die behoeftige graadeens, vlnr: mnr Gustav Grobler(Skoolhoof) Juf Annelise Hatting, Juf Sonja Riekert en John Annandale (SHH).

THABAZIMBI – Solidariteit Helpende Hand se Thabazimbi Tak het vanjaar 14 tassies by verskeie Afrikaanse laerskole uitgedeel as deel van Helpende Hand se nasionale skooltassieprojek.

Sedert Solidariteit Helpende Hand hul nasionale skooltassieprojek drie jaar gelede van stapel gestuur het, is skooltassies reeds aan 12 500 behoeftige Graad 1-leerlinge regoor Suid-Afrika voorsien. In Januarie vanjaar is 3500 tassies by 168 skole landswyd versprei.

In Thabazimbi Area is tassies onderskeidelik aan behoeftige Gr 1’s in Laerskool Koedoeskop, Laerskool Thabazimbi en Bosveld Akademie versprei.

Volgens Helpende Hand streeksorganiseerder Marianthie van der Walt is die organisasie trots dat 14 Gr 1’s in Thabazimbi Area vanjaar hulle eerste skooljaar met ‘n vol tassie en ‘n oop gemoed kan inloop.

“‘n Kind uit ‘n behoeftige agtergrond het genoeg struikelblokke om te oorkom, hy moet nie nog verder benadeel word omdat sy ouers nie ‘n skooltassie of basiese skryfbehoeftes kan bekostig nie,” sê Van der Walt.

Volgens dr Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, moet ‘n gebrek aan geld nooit die rede wees waarom ‘n behoeftige graadeen nie sy skoolloopbaan op gelyke voet kan begin nie.

“Helpende Hand bedank elke lid van die publiek wat hulle harte oopgemaak het om behoeftige Graadeens ‘n gelyke kans te gee” sê dr Danie Langner, Uitvoerende Hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Volgens Van der Walt is die nood in die Thabazimbi Area gemeenskap groot.

“Deur hande te vat en saam te staan kan ons ‘n daadwerklike verskil in die lewens van ander maak,” sê sy.

“Ywerige hande en harte is nodig om die nood aan te spreek,” sê Van der Walt.

Belangstellendes kan die volgende persone kontak vir meer inligting, Monica by 076 599 1858 en Boeta by 072 447 3871.