Dierbare boerboel by TAR

Die boerboel wat by TAR beskikbaar is vir aanneming. Sy het ‘n rustige geaardheid en sal ‘n goeie waghond wees vir haar nuwe mense ouers.

THABAZIMBI –  ‘n Pragtige boerboel is tans by Thabazimbi Animal Rescue beskikbaar vir aanneming. Sy is ‘n twee jaar oue teef met die pragtigste geaardheid. Haar mense ouers moes haar opgee omdat hulle in ‘n woonstel moes intrek. TAR vra ‘n baie goeie huis vir haar, volgens hulle is sy werklik ‘n baie oulike hond.

TAR doen ‘n beroep op die publiek om die aflaai van diere langs die pad te staak. Hulle kry weekliks gevalle waar troeteldiere langs die Marakele pad of op die Spitskoppad afgelaai word. Daar is alternatiewe soos die veeartse asook TAR. Hulle pleit by die publiek om eerder die diere aan TAR te oorhandig as om hulle langs die pad af te laai. Skakel Tania by 084 885 6487, Annelie by 082 651 5464 of Andrea by 083 575 5815.

Die TAR Charity Shop verwelkom steeds donasies van enige aard. Hierdie items word weer teen spotgoed verkoop en die winste word aangewend vir TAR-onkostes soos die veearts-rekeninge en voedsel vir die diere. Daar is tans vele ornamente asook hokkiestokke. Die klere-afdeling is by Deo Volente Bed Shop te besigtig gedurende gewone besigheidsure, terwyl die Charity Shop langs Trinkett’s and Bells is te Dertiendelaan (blommehuis) op Vrydae 14:00 – 17:30 en Saterdae 10:00 – 14:00, skakel Paula vir enige inligting 083 256 6138.