DA Limpopo Leier praat met sakemanne
THABAZIMBI – Die Provinsiale leier van die DA in Limpopo, Desireé van der Walt, het die sakegemeenskap van Thabazimbi tydens ‘n sakeontbyt by Butlers toegespreek. Die sakeontbyt is deur plaaslike DA ondersteuners gereël.
Me Van der Walt het in haar toespraak genoem dat vanjaar se munisipale verkiesing die belangrikste verkiesing sedert die verkiesing van 1994 is. Die volgende algemene verkiesing sal in 2014 gehou word, wat beteken dat raadslede wat tydens vanjaar se verkiesing ingestem word, heel waarskynlik net vir drie jaar as raadslede sal dien.
Anders as algemene verkiesings, raak plaaslike verkiesing almal in die gemeenskap direk. Waar algemene verkiesings, veral in Limpopo, deur intimidasie en opsweping gekenmerk word, is dit gewoonlik nie die geval tydens plaaslike verkiesings nie.
Die DA se uiteindelike doel is om enige twee-derde meerderhede te voorkom. Dit is die enigste manier waarop begrotingsverkwistings tot ‘n einde gebring kan word. So is daar die forensiese audit van die Thabazimbi Munisipaliteit wat nooit ter tafel gelê is nie en Bela Bela wat deur ‘n onwettige raad regeer word aangesien hulle vorige begroting nooit goedgekeur is nie.
Limpopo sit daarby opgeskeep met 25 distriksmunisipaliteite waarmee totaal weggedoen kan word aangesien dit net die belastingbetaler se geld mors omdat hulle niks beteken nie.
Sy het klem daarop gelê dat daar nie ‘n enkele gesonde munisipaliteit in Limpopo bestaan nie. Al die munisipaliteite het talle vakante poste met onbevoegde personeel in baie van die poste wat wel gevul is.
Sy het dit ook genoem dat aangesien munisipale verkiesings op ‘n partygrondslag beveg word, onafhanklike kandidate wat inkom, die totale balans van die opposisie omver gooi. In Thabazimbi munisipaliteit, met sy 24 raadslede, het dit ‘n beduidende invloed aangesien die sterkste opposisie in werklikheid drie stemme verloor as ‘n onafhanklike kandidaat, wat nie die ANC ondersteun nie, inkom aangesien ‘n party-kandidaat twee stemme kry en ‘n onafhanklike net een stem.
Sy het vir Helen Zille as voorbeeld voorgehou van ‘n besem wat steeds skoon vee. Al die DA raadslede in haar streek (Wes-Kaap) word elke ses maande ge-reuvalueer. Hier is beslis ‘n vrou wat nie raadslede soek wat net vir hul eie sak werk nie. Daarmee wil die DA dan ook hande uitreik na ander partye, nie koalisies nie, om saam te werk teen die ANC oorheersing van die munisipaliteite. Een van die partye waarmee dit egter nie gaan werk nie, is Cope, het sy gesê, aangesien die party totaal leierloos is en geen magsbasis het nie. Indien daar partye is wat die DA se waardesisteem kan deel, kan daar samewerking wees.
As gevolg van die herindeling van stemdistrikte, is dit nodig dat alle kiesers, om veiligheidshalwe, herregistreer vir die munisipale verkiesing. Die nommer 32810 kan geskakel word om uit te vind waar jy moet gaan stem indien jy wel geregistreer is.
Van der Walt het ‘n beroep op almal ouer as 18 jaar om wel te registreer en te gaan stem met die verkiesing. ‘n Wegblystem is nie ‘n stem nie, maar ‘n stem vir die sterkste party wat in Limpopo beslis die ANC is. Die nuwe wykindeling is ‘n direkte poging van die ANC om te verseker dat hulle die meerderheid stemme in seker kiesdistrikte kan verkry. Met ‘n wegblystem help jy hulle om in hierdie doel te slaag.
Partye moet dink waar hulle saam ‘n verskil aan die breë struktuur kan maak. Die ANC vat eenvoudig alles en nie eens hul ondersteuners deel daarin nie. So het dit dan ook al in die verlede gebeur dat waar die opposisie hul voet in die deur gehad het, ‘n ander opposisieparty hul teengestaan, ver verloor het en daarmee saam vir ‘n naelskraap oorwinning vir die ANC oor die ander opposisieparty gesorg het.
Almal besef dat die enigste rede dat die Wes Kaap so goed presteer aan die leierskap van Helen Zille toegedig kan word. Kundigheid is die absolute voorvereiste en daarom is dit van die uiterste belang dat net die mense wat aan hierdie vereistes voldoen, aangestel word. Wes Kaap het aan die kiesers gewys wat hulle stem werd is. Moet dus nie jou stem mors en wegbly of stem vir ‘n party wat nie ‘n verskil kan maak nie.
Van der Walt het daarop gewys dat daar geen dissipline in die wetgewer is nie. Hierdie land en hierdie provinsie moet herbou word. Jy as kieser kan self jou sommetjies maak en dan besluit vir wie jy gaan stem.
Sy het ook ‘n beroep op inwoners gedoen om by die belastingbetalersvereniging aan te sluit. As individu het jy geen mag nie, iets wat jy kan bekom deur die belastingbetalersvereninging wat wel die mag het om insette te lewer.