KunsteGrot -Grotoupa kom kuier
Die besprekings vir “Groet die Grotoupa” op 12 Februarie het goed afgeskop. Dit is vir die KunsteGrot ‘n groot voorreg om ‘n produksie van dié gehalte hier aan te bied. Indien u nog nie bespreek het nie, lees hier en doen dit dan sommer dadelik!
Die Grotoupa is nie seniel nie. Partykeer kom dit vir sy kinders so oor, maar hy is beslis by sy volle bewussyn. Hy is net “skelm”, want hy is lief vir sy eie geselskap, sy eie “grot”, sy eie katoeters en sy eie ruimte. Ou mense lewe nog. Die kinders mag dalk dink hulle lewe nie meer nie, maar hulle het nog hulle behoeftes, hulle is nog lus om die kat in die donker te knyp en veral wil hulle hul onafhanklikheid behou. En dis wat op komiese wyse uitgebeeld word in GROET DIE GROTOUPA. Oupas het nog baie “mens” oor in hulle. Groet die Grotoupa is nie stand-up komedie nie, maar toneelkomedie in die ware sin van die woord. Al die elemente is daar, maar veral komedie, wat gehore gaan laat skaterlag. Maar van jonk tot oud sal kan identifiseer met die konflik, patos, snaaksigheid van hierdie Oupa. En selfs so bietjie in hul mou lag oor hul eie oupas…
Vir alle besprekings, kontak Rita by 083 7448559 / rivol@telkomsa.net