General

Aangeklaagde in Aucampmoord se saak weereens uitgestel

THABAZIMBI – Die aangeklaagde in die opspraakwekkende Aucamp moordsaak, Brighton Mafanedza (26) se saak is weereens uitgestel.
Mafanedza het gister, Donderdag 20 Januarie 2011 in die Thabazimbi Magistraatshof verskyn op aanklag van die moord op mnr Casper en me Daleen Aucamp op Versoeningsdag, 16 Desember 2010.

Die egpaar is met ‘n mes gesteek en hul verkoolde lyke is kilometers verder in hul Toyota Landcruiser gevind. Mafanedza, die egpaar se tuinwerker, is op Saterdag, 18 Desember gearresteer.

Sy saak is uitgestel tot Woensdag, 26 Januarie 2011 wanneer aansoek om borgtog ingedien kan word.

In ‘n onderhoud met Die Kwêvoël het mnr Billy Mudavhi, beheeraanklaer van Thabazimbi, Northam, Dwaalboom en Cumberland, sy versekering gegee dat die staat als in hul vermoë doen om borgtog teen te staan en poog hulle om die saak na die hooggeregshof te Polokwane te verwys, weens die ernstige aard van die misdaad.

Mafanedza is steeds in polisie-aanhouding.