SportTop Stories

Stywe lyne by Thabazimbi Hengelklub

Die wenners van Thabazimbi Hengelklub se hengelkompetisie tydens die kompetisie op Sondag 9 Januarie het groot visse gekap. Op die foto van links na regs: Nicolene Heydenrych, Desire Pretorius, Martie Murray, Jan Botha, Leon Janse van Vuuren en Nico Botha. Voor vlnr: Esthian Humphries en CW Humphries. Wenners is bepaal deur die meeste punte met ander woorde, vyf punte per vis en 10 punte per kilogram.

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Hengelklub het die afgelope naweek op ‘n nat positiewe noot afgeskop. Die klub is op die been gebring in Desember 2010 en het wye reaksie onder die gemeenskap uitgelok. Die klub staan reeds sterk op 58 ingeskrewe lede.

Die kompetisie het plaasgevind by Henk Schutte se dam. Ondanks die reën en die ongure weer het 24 hengelaars aan die kompetisie deelgeneem. Die kompetisie het gestrek van 07:00 Sondag tot 15:30 die middag.

Die penkoppies het gewys dat geen reën jou hengelgeesdrif hoef te demp nie en het vir vyf ure van die kompetisie in die reën gestaan en hengel.
Hierdie opoffering het vrugte afgewerp en een van die penkoppies was die algehele wenner vir die dag.

Tussen die hengelaars is daar ongeveer 15 karps gevang met ‘n gemiddelde massa van 2kg per vis. Een van die hengelaars het ‘n tydjie gelede daar ‘n knewel van ‘n karp gevang met ‘n massa van 9kg.

Die wenners is as volg: Seniors: Leon Janse van Vuuren eersteplek, Nico Botha tweedeplek en Jan Botha derdeplek. Dames: Nicolene Heydenrych eersteplek, Martie Murray tweedeplek en Desire Pretorius derdeplek. Juniors geen wenners. Penkoppe:
CW Humphries eersteplek, Esthian Humphries tweedeplek en geen derdeplek.

Die klub gaan op Sondag 30 Januarie 2011 ‘n ope kompetisie daar aanbied, almal kan deelneem al behoort jy nie aan die klub nie. Die kompetisie word gereël vir ‘n fondsinsameling ter ondersteuning vir twee van die dameslede wat gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe te Bloemhofdam gedurende Februarie. Die kostes vir die kompetisie beloop R100 inskrywingsgeld per hengelaar en R10 hekgeld per persoon. Groot pryse is op die spel, onder andere ‘n jagpakket ter waarde van R7000, hengelnaweek, baie koopbewyse en nog baie meer.

Die hengelklub gaan ‘n ope vergadering hou op Dinsdag om 18:00 by die Butler Restaurant in die Pick ‘n Pay Sentrum.  Daar word beoog om ‘n komitee te verkies tydens die vergadering.  Alle belangstellendes is welkom om die vergadering by te woon.

Navrae om lidmaatskap tot die klub of die komende kompetisie kan gerig word aan Gareth van den Linde by 073 340 4251 (tydelike Voorsitter) of Nicolene by 083 348 2315 (tydelike Tesourier). Die volgende klubkompetisie vind plaas by Klipvoordam gedurende die naweek van 12 Februarie.