Plaasmoord ruk Thaba

THABAZIMBI – ‘n Egpaar van ‘n wildsplaas buite Thabazimbi is vermoor enkele ure nadat hulle saam met hul drie dogters Kersinkope in Rustenburg gedoen het.
Mnr Casper Aucamp (55) en sy vrou, Daleen (52) is Woensdagaand, 16 Desember, kort na hul terugkeer op hul plaas, Vandas, deur hul tuinwerker oorval en vermoor terwyl hulle besig was om die Kersgeskenke af te laai.
Hul oudste dogter, Me Mandie Prodehl (32), het onraad vermoed toe haar ouers nie skakel om hul tuiskoms te bevestig nie. Sy en haar suster, Leonie Mans (24) het self na die plaas uitgery en is deur die egpaar se tuinwerker, Brighton Mafanedza ingelig dat hul ouers Dwaalboom toe gery het vir voeraankope. Mafanedza, ‘n ses en twintigjare Zimbabwiese plaaswerk is deur vriende van die egpaar as die “betroubaarste plaaswerker” beskryf.
Die egpaar se uitgebrande Toyota Land Cruiser is sowat 20km van die plaas gevind met hul verbrande lyke in die kattebak. Die Aucamps se dogters moes hulle aan juwele uitken.
Lt kol Mohale Ramatseba, provinsiale polisiewoordvoerder het gesê die egpaar is verskeie kere met messe gesteek. Me Aucamp se handsak met haar selfoon, huissleutels, kaarte en R2000 is in Mafanedza se besit gevind. Hy’t op Saterdag 18 Desember skuld erken en is gearresteer. Volgens me Prodehl kon die polisie met forensiese ondersoeke vasstel dat Mafanedza wel die moorde gepleeg het. Mafanedza is borgtog geweier en is in polisie aanhouding. Hy moet 20 Januarie weer in die landdroshof in Thabazimbi op onder meer aanklagte van moord en gewapende roof verskyn.
Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA se noordstreek het gesê dat die barbaarsheid wat soos ‘n kanker deur die platteland trek, nie deur duiwelse metodes gestop kan word nie. Hy’t gemaan dat boere nie die reg in eie hande neem nie en dat kwaad nie kwaad kan oorwin nie, dit sal dit bloot versterk. Volgens Viljoen is daar weens plaasmoorde ‘n rusteloosheid en ‘n groterwordende ongemak onder boere.
Die Aucamp-egpaar is op Vrydag 30 Desember 2010 vanuit die NG Kerk Wes, Rustenburg ter ruste gelê. Hulle laat hul drie dogters, Mandie (32), Linda (29) Leonie (24) en twee agterkleindogters Marlie (6) en Antoinette (5) na.